Dit word van georganiseerde landbou verwag om ‘n toenemende belangrike rol te vervul. Die vernaamste skakel in die ketting, naamlik die landbouers op grondvlak sal die bepalende rol in dié verband speel en alles sal afhang van hulle ondersteuning en betrokkenheid.
Die hele struktuur van die georganiseerde landbou rus op die landbouer. Die landbouer op sy plaas en sy betrokkenheid by sy landbouvereniging, bedryfsorganisasie en landboubesigheid werk deur die distriksorganisasie en provinsiale landbou-unie(Agri NK) na AGRI SA op nasionale vlak. Dit bied aan elke landbouer die geleentheid vir deelname en bring ook verantwoordelikheid mee.
Die prosesse waardeur en die spoed waarteen die Regering besig is om veranderinge aan te bring ten opsigte van ons landbouers se grondregte, waterregte, belasting, bemarking, landboubesighede, internasionale handel, wet en orde, finansiering en arbeid vereis baie kundige insette en vaardige onderhandeling. Die landbouer as enkeling staan magteloos om enige positiewe rol te speel ten opsigte van sake wat hom raak. Hy het ‘n organisasie nodig wat namens hom kan optree.
Die nuwe Regering is besig om elke wet te herskryf. Dit help nie jy as individu sit op die kantlyn en kritiseer nie, dan het jy nie ‘n invloed op die wedstryd nie. Daarom moet daar ‘n struktuur wees wat namens die landbou betrokke kan wees en het hy kundige mense nodig om namens hom te beding.
Sommige van die verandering kan positief en opbouend wees en andere kan uiters negatief op kommersiële landbou en individue inwerk. Selfs tot so ‘n mate dat dit winsgewendheid van landbou intens kan beïnvloed of vernietig.
Georganiseerde landbou word deur alle sektore en veral deur die Regering van die dag erken as spreekbuis vir die landbougemeenskap. Daarom is dit noodsaaklik dat ons organisasie, soos wat tans die geval is, die meerderheid kommersiële landbouers verteenwoordig en dit is belangrik om ons ledetal nog verder uit te brei.
Ons organisasie kan tereg daarop aanspraak maak dat hy die spreekbuis vir die landbouers is.
Ons sal ons organisasie (dit sluit die hele spektrum in vanaf landbouverenigings tot provinsiale- en nasionale vlak) in staat moet stel om vir hom sterk, vreeslose en bekwame leiers aan te wys. Dit gaan ongelukkig gepaard met finansiële implikasies. Om ‘n bevredigende diens te lewer is nie verniet nie. Ons het op provinsiale vlak ‘n bekwame personeelkorps nodig om die administrasie aan die gang te hou. Ons kan nie van ons leiers verwag om uit eie sak landbousake te bedryf nie – dan gaan ons eenvoudig net nie bekwame landbouleiers tot ons beskikking hê nie. Dit is so dat baie sake ongelukkig nie net op landbouverenigingvlak hanteer en opgelos kan word nie – wat nog te sê om sekere beleidsake op plaasvlak te beredder. Daarom het ons ‘n landbouvereniging, landbou-unie, provinsiale landbou-unie en Agri SA nodig.
Die landbou se prominente indirekte rol in die ekonomie is ‘n funksie van terugwaartse en voorwaartse skakeling met ander sektore. Aankope van intermediêre goedere en dienste vorm terugwaartse skakeling met die vervaardigingsektor, terwyl voorwaartse skakeling hoofsaaklik gevestig word deur middel van die verskaffing van grondstowwe aan die nywerheid. Ongeveer 70% van landbou-uitsette word gebruik as intermediêre produkte. Die landbou is in eie reg ‘n belangrike sektor asook ‘n belangrike drywer vir groei in die res van die ekonomie – ‘n feit wat ook erken word in beleidsverwante dokumente soos die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030.
In wese bevestig die Nasionale Ontwikkelingsplan die noodsaak vir die landbousektor – hetsy opkomend of kommersieel – om steeds die ruimte gegun te word om ekonomiese groei, werkverskaffing, die verdiening van buitelandse valuta en die ontwikkeling van die nywerheidsektor binne ‘n veilige en nie-diskriminerende omgewing maksimaal te kan ondersteun.
Weens ‘n onaanvaarbare vlak van misdaad en geweld in landelike gebiede, poog die organisasie voortgeset om ‘n veilige omgewing vir mense wat betrokke is in die landbou te verseker. ‘n Goeie werksverhouding word gehandhaaf met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) op beleids- sowel as operasionele vlak met die oog daarop om verwante probleme aan te spreek.