+ 27 53 832 9595
Die Noord-Kaap beleef ‘n veldbrandseisoen wat merkwaardig verskil van en meer intens is as vorige jare. Volgens historiese data het die Noord-Kaap in die verlede nooit baie veldbrande beleef nie. In onlangse jare het hierdie prentjie egter drasties verander. Hierdie toename is nie die enigste bekommernis nie; die intensiteit en duur van die brande is ook problematies.

Verder word ons gekonfronteer met ongewone klimaatstoestande wat hoë brandindekse skep. Hierdie uitdagings sluit in veranderende weerpatrone, wat ‘n direkte uitwerking op die normale lentereënval het, met die meeste gebiede wat min tot geen reën ontvang het, asook hoë volumes droë weiding wat maklik brand, en sterk winde.

Dit is alles faktore wat bygedra het tot die ramptoestand.

Dit is moeilik om hierdie brande te beheer en effektief te blus omdat hulle oor ‘n uitgestrekte gebied voorkom wat moeilik toeganklik is, met verskeie vure wat gelyktydig brand.

Vier van die vyf distrikte in die provinsie het in 2023 veldbrande beleef, wat gepaardgegaan het met ernstige verliese. Tot op hede is 500 000 hektaar vernietig.

Boere word fisiek en geestelik geraak, maar die finansiële impak is die ergste. Hulle word gelaat met min of geen weiding, hoogs beskadigde infrastruktuur en dikwels verlies aan vee.

Die skade aan infrastruktuur is nie beperk tot heinings nie. Dit sluit skade aan watervoorsieningsinfrastruktuur, elektrisiteitsvoorsiening- en basiese kommunikasie-infrastruktuur in. Tot op hede het 480 000 hektaar landbou weiding verlore gegaan. Die omvang van die skade is moeilik om te kwantifiseer, hoewel dit op miljoene rande geraam word.

Die nagevolge van hierdie brande noop die boere om voer vir hul diere aan te koop of uiteindelik hul kudde teen ‘n verlies te verkoop weens ‘n swak mark en verwante druk.

Die plaaslike brandverenigings, tesame met die grondeienaars, plaaslike owerhede en organisasies as ‘n span, het uitstekende werk gedoen om hierdie brande te beheer en te bestry ten spyte van die uitdagings wat hulle in die gesig staar, maar het nou die punt van uitputting bereik. Die veelvuldige brande en aantal plekke waar dit voorkom is oorweldigend.

Om die brande te voorkom en doeltreffend te bestry en die gemeenskappe te beskerm, is finansiële hulp broodnodig. Hierdie fondse sal gebruik word vir onder meer lugsteun en hulp aan die Working on Fire-spanne. Dit sal sorg dat brande vinnig onder beheer gebring word en verseker dat die skade beperk is, en sodoende help om voedselsekerheid te handhaaf.

Agri Noord-Kaap het ‘n beroep op die provinsiale en nasionale regering gedoen om die dringendheid van hierdie saak te erken en ‘n ramptoestand te verklaar. Dit sal die provinsiale regering en sy strukture bemagtig om pogings om brande te bestry doeltreffend te ondersteun en hulp te verleen in die vorm van veevoer en materiaal vir die herstel van infrastruktuur wat in die brande vernietig was.

Verdere navrae:
Willem Symington
President Agri Noord-Kaap
084 592 7474

Janine Byleveld
Bedryfsbeampte Rampbestuur
073 291 0557

Share This