Waak teen prysborrels in die wildbedryf, het mnr. Ernst Janovsky van Absa-Agribesigheid op die Kirkwood-wildfees gewaarsku.
Wildpryse het in 2014 ’n hoogtepunt bereik en kopers moet waak teen prysborrels, was die boodskap van mnr. Ernst Janovsky, hoof van Absa-Agribesigheid se sentrum vir uitnemendheid, op die Kirkwood-wildfees.
Hy sê die gulde reël is dat die teelwaarde van wild nie meer as vier keer die jagwaarde daarvan moet wees nie.
“As ’n swart rooibokram se jagwaarde byvoorbeeld R3 000 is, behoort die aankoopprys op ’n veiling nie meer as R12 000 te wees nie. Indien méér daarvoor betaal word, is jy in ’n borrel en gaan jy met ’n harde slag aarde toe kom.”
Hy sê wildpryse het, met die uitsondering van enkele soorte, in 2014 ’n hoogtepunt bereik.
Ooraanbod van eksotiese wild
“Die ooraanbod van ‘eksotiese’ wild en kleurvariante sal pryse verder onder druk plaas. In die geval van vlaktewild sal pryse konstant bly, of selfs effens verbeter.
’n Voordeel vir Suid-Afrikaanse wildboere is die groter verskeidenheid wildsoorte en getalle, en die feit dat dit die enigste plek is waar buffels gejag kan word.”
Mnr. Corné du Plessis van Lephalale, een van die afslaers op die Kirkwood-wildveiling, het gesê die droogte en gebrek aan voer het baie boere genoodsaak om hul kuddes te verklein, wat bydra tot die huidige afplatting in pryse.
“Die prys waarteen wild tans verhandel, bied ’n ideale geleentheid vir boere om hul voorraad jagdiere aan te vul, of om tot die wildbedryf toe te tree,” sê mnr. Neil Dodds, voorsitter van die Oos-Kaapse Wildbestuursvereniging.