Die Regering vestig nou sy hoop op die “een huishouding, een hektaar”-projek van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming om die produksiepotensiaal van landbougrond in kommunale gebiede te ontlok en individuele titelaktes vir begunstigdes daar te verseker.
Hierdie projek, waar ’n huishouding een hektaar grond vir die Regering op ’n gebruik of verloor basis kry, is daarop gemik om onder meer armoede te verlig en ’n beter klas swart kleinskaalse boere op kommunale grond en diegene op staatsgrond te skep.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het by ’n nuuskonferensie by die Parlement aangedui dat beter resultate met die bewerking van grond bereik sal word wanneer ’n huishouding op kommunale grond self verantwoordelikheid vir sy eie deel grond neem. “Ons wil seker maak dat mense die grond bewerk, dat elke deel daarvan bewerk moet word.”
‘Sal volle titelaktes kry’
Hy het verduidelik dat met behulp van die een huishouding, een hektaar-stelsel, almal in kommunale gebiede wat onder tradisionele leierskap is en selfs diegene wat se grond in trusts is, op die einde van die dag volle titelaktes sal kry. “Ons sal volle titelaktes gee vir grond wat ons aangekoop het vir restitusie en ook vir die huishoudings.”
Daar sal egter nie weggedoen word met oorhoofse leierskap vir kommunale grond nie. “Daar is dinge wat ons vir ’n baie, baie lang tyd met hulle sal moet los. Een daarvan is dat dit onproduktief sal wees as ons maak asof daar nie tradisionele leiers is nie. “Want eerder as om mense aan die gang te kry, maak jy hulle vyandig en nog voordat jy begin praat het hulle reeds ’n houding.”
Nkwinti het vroeër by die begrotingsrede van sy departement aangedui dat die een hektaar, een huishouding-program met die program vir Agriparke in lyn gebring sal word om die deelnemende huishoudings met ’n gevestigde mark vir hulle produkte te verbind.
Aanvanklik sal daar vyf terreine vir die een huishouding, een hektaar-projek in elk van die 44 agriparke wees. Dit beteken dat daar altesaam 220 een huishouding/hektaar-terreine in die huidige geldjaar sal wees. Die doelwit is ’n minimum van 50 huishoudings per terrein.