Hy het tydens die organisasie se bekendmaking van die jongste plaasmoordstatistiek in Pretoria gesê in die eerste helfte van vanjaar is reeds 39 mense in 186 plaasaanvalle op plase vermoor teenoor 27 in 131 aanvalle in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
“Ons stem nie met die polisie saam dat plaasmoorde en -aanvalle besig is om af te neem nie. Sedert 2011 het plaasmoorde jaarliks toegeneem van 48 in 2011 tot 64 verlede jaar. As dieselfde neigings in die tweede helfte van vanjaar voortduur, kan die aantal moorde teen die einde van die jaar op 78 staan. Die aanvalle het ook toegeneem van 96 in 2011 tot 318 verlede jaar en die moontlikheid dat dit vanjaar nog tot 372 kan styg.”
Geldenhuys het daarop gewys dat die TLU SA se statistiek baie akkuraat is met name, datums en plaasname vir elke aanval. Sedert 1990 is reeds 1 824 mense op plase vermoor. Hiervan was 1 170 boere, 491 direkte familie, 141 werkers en 22 besoekers.
Hy meen met die voorneme van die polisie om nou ook gereeld plaasaanvalsyfers bekend te maak, sal hulle saam syfers kan vergelyk om die werklikheid beter te weerspieël.