AGRI SA REAGEER OP GEKOSE KOMITEE SE GOEDKEURING VAN DIE ONTEIENINGWETSONTWERP Mediaverklaring - 13 Mei 2016
AGRI SA REAGEER OP GEKOSE KOMITEE SE GOEDKEURING VAN DIE ONTEIENINGWETSONTWERP
Die Gekose Komitee op Ekonomiese en Besigheidsontwikkeling het op 10 Mei die Onteieningwetsontwerp goedgekeur. Die komitee het slegs twee veranderings aangebring – beide veranderings is van ‘n semantiese aard. Die definisie van “onteiening” wat Agri SA hard probeer het om geskrap of verander te kry, is steeds in die wetsontwerp. Die definisie beperk vergoeding vir die ontneming van eiendom tot gevalle waar die staat die eiendom verkry het. Volgens Ernest Pringle, voorsitter van Agri SA se Landbou-ontwikkelingskomitee, stel die Grondwet geen sodanige beperking nie.
“Die provinsiale verhore oor die wetsontwerp is op kort kennisgewing gehou en daar was min geleentheid vir openbare deelname en insette. Ten spyte van die feit dat Agri SA se provinsiale verteenwoordigers in al die provinsies beswaar gemaak het teen die definisie van onteiening, is hierdie besware nie ingesluit by die provinsiale verslae oor die verhore wat voor die Gekose Komitee gedien het nie,” sê Pringle.
Agri SA het verskeie regsmenings verkry oor die vertolking van die Konstitusionele hof se uitspraak in die saak van Agri SA vs die Minister van Minerale en Energie, naamlik dat die ontneming van ‘ou orde’ minerale regte deur die staat as voog van die minerale, nie onteiening tot gevolg het nie en dat vergoeding dus nie betaalbaar is nie. Volgens Pringle, is senior regslui se jongste mening oor die uitspraak en die kwessie van voogdyskap op 4 Mei ontvang. Die regslui is gevra, onder andere, om ‘n mening te gee oor die risiko dat produktiewe grond ontneem kan word sonder vergoeding onder die skyn van voogdyskap ingevolge die bepalings van die konsep-Raamwerkwetsontwerp op die Beskerming en Ontwikkeling van Landbougrond (PDALFA). Hul advies was dat die idee van staatsvoogdyskap gelees moet word in die konteks van die doelstellings van die spesifieke wetsontwerp. Terwyl die Wet op Minerale en Petroleumhulpbronontwikkeling (MPRDA) poog om weg te doen met privaat besit van minerale, is dit nie die bedoeling van die PDALFA om privaat besit van landbougrond te skrap nie. PDALFA is gegrond op die veronderstelling dat privaat besit van landbougrond sal voortduur en beoog nie die afskaffing daarvan of die ontneming van landbougrond van private grondeienaars sonder vergoeding nie. Daar bestaan internasionaal presedente vir voogdyskap van minerale – dieselfde geld vir grond. Daar is goeie argumente uit te maak dat grond en roerende eiendom sterk verskans is, nie net in die Suid-Afrikaanse Grondwet nie maar oor internasionaal in grondwette wat handveste van fundamentele regte insluit.
Die Hof het ook in die Agri SA-saak bevind dat daar geen onteiening kan wees in omstandighede waar ontneming nie tot gevolg gehad het dat die staat sodanige eiendom verkry het nie. Dit is slegs waar die staat vir homself eiendom verkry dat dit as onteiening beskou sal word. Die definisie in die Onteieningwetsontwerp blyk in lyn hiermee te wees. Dis is kommerwekkend. Die wetsontwerp as sodanig bevat egter geen nuwe bevoegdhede vir onteiening nie. Enige poging om landbougrond te onteien sonder vergoeding sal via die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye moet geskied, of in die geval van grond in die algemeen via die Minister van Landelike Ontwikkeling en grondhervorming. Agri SA sal beslis enige sodanige poging in die hof teenstaan. Agri SA sal ook die implementering van die Onteieningwetsontwerp, wanneer dit eers in die wetboeke opgeneem is, fyn dophou.
Uitgereik deur Agri SA, Direktoraat: Korporatiewe Skakeling
Navrae
Mnr. Ernest Pringle, Voorsitter van Agri SA se Landbou-ontwikkelingsbeleidskomitee, 072 297 7840
Me Annelize Crosby, Adviseur Regs- en Grondsake, Parlementêre Skakeling, Agri SA, 082 388 0017