Afslaers ding mee by #AELivestock AgriOrbit
Die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie sal in 2018 vir die vyfde agtereenvolgende jaar gehou word. Die kompetisie het ten doel om die lewendehawe-afslaersberoep te bevorder en is in 2014 vir die eerste keer deur die landboutydskrifte, Veeplaas en Stockfarm, aangebied.
Die 2018 weergawe van die kompetisie het reeds afgeskop met die Wes-Kaap streeksrondte wat tydens die onlangse Agri-Expo Livestock gehou is. Dit is die eerste in ’n reeks streeksrondtes wat ter voorbereiding van die nasionale rondte by ALFA 2018 gehou sal word. Na ’n uiters suksesvolle kompetisie die afgelope vier jaar, gaan die Veeplaas-span in 2018 weer die land fynkam vir die beste jong- en skolier-afslaers.
Deelnemers word in jong (19-30) en junior (skoolgaande) kategorieë beoordeel volgens hulle vertoning op die rostrum, veekennis en bedryfskennis. Altesaam vier deelnemers het hulle staal op die rostrum gewys tydens die Wes-Kaap streeksrondte. Die deelnemers is deur Appie Maritz van BKB beoordeel, wie hulle ook met raad bygestaan het.