+ 27 53 832 9595

Die belangrikste belanghebbendes in georganiseerde landbou, georganiseerde agribesigheid, die banksektor en regeringsinstellings het op 10 November 2015 vergader om die impak van die vinnig-verswakkende droogtesituasie in Suid-Afrika op die breë landbousektor en voedselsekerheid te bespreek. Dit is duidelik dat die droogtesituasie nie beperk is tot Suid-Afrika nie maar wel oor ‘n groot deel van Suider-Afrika strek en ook verdere sosio-ekonomiese en voedselsekerheid-implikasies op streeksvlak inhou.

Goeie reëns is moontlik in die somer-reënval gebied van Suid-Afrika oor die volgende paar maande en kan steeds die droogtesiklus breek en sodoende verligting bring, veral vir saai- en veeboere. Die scenario’s dui egter toenemend op ‘n situasie waar beduidende invoere van mielies as stapelvoedsel nodig mag wees, asook die voorsiening van voer vir die instandhouding van teelkuddes.

Terwyl landboufinansiers so ver moontlik sal probeer om boere by te staan om die droogte te oorleef deur middel van skuld-konsolidering en andersins, word hulle ook beperk deur onder andere die bepalings van die Nasionale Kredietwet tot streng uitleenpraktyke waaraan hulle moet voldoen.

Gegewe die uitdagings wat die breër sektor in die gesig staar, sal ‘n taakspan bestaande uit die hoof belanghebbendes, insluitend Agri SA, Agbiz, die Landbank, IDC en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF), asook andere wat genooi sal word, aksieplanne opstel om te help om die geïdentifiseerde risiko’s wat met hierdie ernstige droogte gepaardgaan te versag. Dit sal skakeling met die regering insluit om voedselsekerheid te handhaaf en die volhoubaarheid van die bedryf te verseker.

Uitgereik deur Agri SA, Direktoraat: Korporatiewe Skakeling
Navrae

Omri van Zyl, Aangewese Uitvoerende Direkteur: Agri SA – 082 4175724
John Purchase, CEO: Agbiz – 082 4412308

Share This