water-hugo-lochner-275x275Boere moet hul waterbronne uitbrei en nie net op bogrondse water staatmaak nie, sê die Minister van Water en Sanitasie.

Die landbou gebruik tot 60% van Suid-Afrika se beskikbare water. “Suid-Afrika is ’n waterskaars land wat nooit regtig gemengde waterverbruik verken het nie,” het me. Nomvula Mokonyane, Minister van Water en Sanitasie, tydens haar begrotingsrede gesê.

Sy het haar departement se begroting van R15,2 miljard vir die boekjaar 2016-’17 in die Parlement ter tafel gelê. Dit is 3,2% minder as die vorige jaar se R15,7 miljard.

Sy het gesê op medium- tot langtermyn sal klem daarop gelê word om reënwater vir menslike gebruik, asook vir vee en besproeiing te oes om die effek van klimaatsverandering teen te werk.

Grondwater en bogrondse water
Die gebruik van grondwater en bogrondse water sal ook in die toekoms geïntegreer word. Alle munisipale damme en dié in private besit sal in ’n bestuurstelsel geïnkorporeer word. Bykomende opbergingsvermoë en die hergebruik van water word beplan.

Verder word die grootskaalse ontsouting van seewater beoog. Mokonyane het voor haar begrotingsrede aangedui dat ’n ooreenkoms met Iran gesluit is om ontsoutingsaanlegte by kusdorpies in Suid-Afrika te ontwikkel om watervoorraad ’n hupstoot te gee. “Ons is té afhanklik van bogrondse water.”

Mnr. Nic Opperman, direkteur vir natuurlike hulpbronne by Agri SA, stem saam water moet meer doeltreffend en verantwoordelik gebruik word, maar sê die landbou maak reeds van gemengde waterbronne, asook bogrondse en ondergrondse water gebruik.

Hy sê geen wet bestaan nog wat die inkorporering van damme in private besit magtig nie. “Om bloot water in private besit te ontneem, kom neer op nasionalisering,” het Opperman gesê.

lees verder

Share This