|
September 2014
|
Inhoud
- Wanneer betaal CrisisOnCall die ambulansrekening
- Nuwe lede inligtingstelsel
- Ebola virus
- CrisisOnCall is trots op ons diensverskaffers
- Lewensverryking seminaar in hul lewens
- Ontmoet ons diensverskaffers – Crisis Medical
|
|
Nuwe lede inligtingstelsel
CrisisOnCall is besig om ‘n dinamiese lede inligtingstelsel te implementeer. Hierdie stelsel is elektronies en maklik toeganklik. Lede verkry direkte toegang tot hulle persoonlike inligting, en kan self inligting opdateer en bevestig.
Met die oordra van inligting van een stelsel na ‘n ander, kan inligting verlore gaan of deur elektroniese prosesse verander word. Lede word dringend versoek om hulle inligting na te gaan en te bevestig.
Ons sal u skakel met inligting oor toegang tot die stelsel. Die skakeling sal per sms, e-pos of telefonies wees. |
|
Wanneer betaal CrisisOnCall die ambulansrekening
 CrisisOnCall beskik nie oor sy eie ambulanse nie. Geen enkele ambulansdiens kan effektief ´n landswye ambulansdiens lewer nie. Daar is wel twee nasionale privaat ambulansdienste (ER24 en Netcare911) wat die meeste van die groter metropolitaanse gebiede dek. Verder gebeur dit baie keer dat ´n ambulansdiens nie op ´n gegewe tyd ´n ambulans beskikbaar het nie, of dat ´n ambulans nie naby aan die insident beskikbaar is nie. Daarom gebruik CrisisOnCall die twee genoemdes sowel as byna 100 kleiner privaatdienste om seker te maak die naaste geakkrediteerde ambulansdiens word uitgestuur. (Die oproepsentrum beskik oor ´n baie gesofistikeerde stelsel wat vinnig die naaste ambulansdiens aan die insident identifiseer, want TYD = LEWE!)
´n Noodoproep word direk na die oproepsentrum gemaak deur die noodnommer te skakel waarna die bogenoemde proses in werking tree. Indien die noodsituasie van so ´n aard is dat ´n ambulans direk deur die publiek geskakel word (soos tydens ´n botsing) sal CrisisOnCall slegs van die geval weet indien dit nodig vir die paramedikus is om vir mediese inligting of hulp te skakel.
In beide gevalle sal CrisisOnCall verantwoordelik wees om die rekening te betaal, mits die lid natuurlik opbetaald is met sy premie en dit ´n noodgeval was.
In praktyk dien ambulansdienste om spesifieke redes direk die rekening by ´n lid se mediese fonds in. CrisisOnCall se diensverskaffer wat die oproepsentrum bedryf, ontvang dus nie die rekening vir betaling nie. Indien die mediese fonds dan die rekening betaal, het CrisisOnCall dus geen beheer daaroor nie omdat die ambulansdiens dit nie by ons ingedien het nie. Om die rekening na die tyd om te swaai is bykans onmoontlik aangesien dit, onder andere, die deur oopmaak vir moontlike bedrog.
Indien ´n lid ´n rekening of afskrif van die rekening van ´n ambulansdiens ontvang, word versoek om dit na events@crisisoncall.co.za te e-pos of te faks na 012 335 1881.
CrisisOnCall kan dus net rekenings betaal indien dit ingedien word en aan die neergelegde vereistes voldoen. (Al die ambulansdienste dra kennis van die vereistes.)
|
|
Ebola virus
Ebola is ‘n seldsame, maar dodelike virus wat bloeding binne en buite die liggaam veroorsaak. Met die verspreiding van die virus deur die liggaam, bring dit skade aan die immuunstelsel en organe. Die uiteinde is onbeheerbare bloeding.
Hoe kry jy Ebola?
Ebola is nie so aansteeklik soos meer algemene virusse soos verkoues, griep, masels, ens. nie. Dit versprei normaalweg na mense deur kontak met die vel of liggaamsvloeistowwe van ‘n besmette dier en daarna beweeg dit van persoon tot persoon op dieselfde manier. Diegene wat kontak het met iemand wat reeds die virus het of daaraan gesterf het, is die kwesbaarste om die virus op te doen.
Ander maniere om die Ebola virus op te doen, sluit in kontak met besmette naalde of besmette oppervlaktes. Jy kan nie die Ebola virus uit die lug, water of kos kry nie. ‘n Persoon wat Ebola het, maar nog geen simptome toon nie, kan die siekte egter ook versprei.
Wat is die simptome van Ebola?
Aan die begin kan Ebola voel soos griep of ander soortgelyke siektes. Die simptome vertoon tussen 2 en 21 dae na infeksie en sluit gewoonlik die volgende in:
• Hoë koors
• Hoofpyn
• Gewrig- en spierpyn
• Seer keel
• Swakheid
• Maagpyn
• Gebrek aan eetlus
As die siekte erger word, veroorsaak dit bloeding in die liggaam, sowel as van die oë, ore en neus. Sommige mense sal braak of bloed hoes, ´n mate van bloederige diarree toon, en ook ´n uitslag kry.
Hoe word Ebola gediagnoseer?
Soms is dit moeilik om te bepaal of ´n persoon die Ebola virus onder lede het wanneer net na die simptome gekyk word. Dokters kan toetse doen om ander siektes soos cholera en malaria uit te skakel.
Die Ebola virus kan ook deur bloed- en weefseltoetse gediagnoseer word.
Indien ´n persoon positief vir die Ebola virus toets, sal hy onmiddellik van ander mense geïsoleer word om verdere verspreiding te voorkom.
|
|
|
Lewensverryking seminaar in hul lewens
Ons sussie en swaer het ons vir baie lank gepla en geneul om LEWENSVERRYKING se huweliksverrykingskursus te doen. In Maart vanjaar het ons die kursus gaan bywoon, niksvermoedend dat die Here ons harte al lankal begin voorberei het en dat dit wat daar sou gebeur, ‘n geweldige impak op ons lewens sou hê..
Johan het ´n paar jaar gelede ´n pos as finansiële bestuurder by boukontrakteurs aanvaar. Die firma het bankrot gespeel en hy is werkloos gelaat met ´n groot bedrag skuld as gevolg van borge wat hy namens die firma geteken het. Dit was vir ons finansieel en emosioneel ´n baie moeilike tyd. Daar was baie keer troebel dae, bitterheid en kwade gevoelens omdat ons iemand anders se skuld moes afbetaal. Die Here het egter in hierdie tyd ´n besonderse pad van geestelike groei saam met ons gestap. Een van die moeilikste dinge was om alle beheer aan die Here oor te gee. “To let go, and let God” lyk indrukwekkend op papier, maar is baie moeiliker in die praktyk. Die Here het in hierdie tyd ons fokus verskuif en het ons by ´n plek gebring waar ons moes besef en bely dat Jesus belangriker is as geld en aardse besittings, dat alles van Hom af kom, dat niks aan ons behoort nie en al het ons niks, dit nie ons “status” by Hom kan verander nie.
Tydens die huweliksverrykingskursus het ons die baie belangrike beginsel van VERGIFNIS geleer. Ons het alreeds die betrokke persone vergewe, want ons het geweet ons moes, maar ons het net met die verstand en nie met die hart vergewe nie. Om ´n wrok te dra en nie te vergewe nie, is soos om self gif te drink en te hoop die ander persoon gaan dood. Ons is tydens die kursus gelei om regtig met die hart te vergewe en die persone te seën. Ons het ook bewus geraak van die feit dat ons mekaar moes vergewe.
In net drie maande nadat ons die betrokke persone vrygespreek het, het ons finansiële posisie handomkeer verander. Dieselfde middag nadat ons van die kursus af huis toe gery het, het die prokureurs geskakel om te sê dat Johan se naam van die swartlys afgehaal is nadat ons vir baie lank gesukkel het om dit reg te kry, sonder sukses. Die Here het ook finansieel voorsien sodat ons nou al die skuld kan betaal.
DAAR IS GROOT KRAG IN VERGIFNIS. Jesus antwoord Petrus in Matteus 18:21 dat ons sewentig maal sewe keer moet vergewe. Ons het beleef dat as jy die ander persoon vryspreek en seën, jy self ook vry kom en geseën word!
Ons loof en prys die Here vir Wie Hy is! Hy is getrou, Hy doen wat Hy belowe en Sy Woord is lewend. As ons moes kies of ons weer deur alles wil gaan, sou ons antwoord “JA!” wees. Dit was nie ´n maklike pad nie, maar as ons nooit hierdeur gegaan het nie, sou ons nooit die Here geken het soos ons Hom nou ken nie!
Lewensverryking se seminare vir die res van die jaar:
- 3 – 7 Oktober – Tienerseminaar
- 3 – 7 Oktober; 10 – 14 Desember – Seminaar vir Egpare
- 5 – 8 Desember – Seminaar vir Enkellopers
Gaan kuier op ons webwerf by www.lewensverryking.co.za; bel 012 546 8098, of stuur ´n e-pos na info@lewensverryking.co.za om meer besonderhede van die seminare te kry.
|
|
Ontmoet ons diensverskaffers – Crisis Medical |
Crisis Medical is een van CrisisOnCall se ambulans diensverskaffers in die Noordelike gedeelte van Durban. Hulle bied ´n volledige ambulansdiens met reaksietye wat die kriteria van CrisisOnCall eerbiedig. Hulle beskik oor goed opgeleide personeel wat ondersteun word deur top toegeruste voertuie.
Hul besigheidsfilosofie, ”Omgee vir Pasiënt”, is hul top prioriteit.
Crisis Medical het in 2011 begin toe Neil Powell (Operasionele Direkteur) in sy privaat voertuig met sy eie toerusting begin het om pasiënte by botsingstonele te help. Tydens die diens het hy agtergekom dat dit soms baie lank vat om ´n ambulans op die toneel te kry, wat natuurlik nie in die beste belang van die pasiënt is nie. Hy en ´n vriend het toe besluit om ´n ambulansdiens op die been te bring.
Crisis Medical het amptelik met hul eerste voertuie en personeel op 21 Maart 2012 die lig gesien. Hulle het tans drie goed toegeruste ambulanse en twee reaksievoertuie. Hulle is ook lid van SAPAESA (South African Private Ambulance and Emergency Services Association).
Die area wat hulle bedien, wissel van die Umgeni Rivier tot by Ballito en van die kuslyn na die binneland wat Newlands, Inanda, Kwa-Mashu, Verulam, Ndwedwe, Bhamshela, en Tongaat insluit.
|
|
CrisisOnCall is trots op ons diensverskaffers
Die program Carte Blanche het op 24 Augustus 2014 skokkende onthullings oor privaat ambulansdienste gemaak. Die volgende getuienis is gebring:
- Sommige privaat ambulansdienste baklei letterlik onder mekaar op botsingstonele om pasiënte af te voer.
- Pasiënte word soms alleen in ambulanse toegesluit sodat ander dienste hulle nie kan behandel/afvoer nie.
- Ambulanse word as paneelwaens geregistreer en bevat nie die nodige basiese toerusting nie.
- Onopgeleide personeel werk met pasiënte wat onmiddellik die pasiënt se lewe in gevaar kan stel
Waar laat dit die publiek? Letterlik tussen die duiwel en die diep blou see! Staatsambulanse het in baie gebiede dieselfde probleme. In dele van die platteland mag pasiënte met ´n mediese fonds nie oor ´n dorpsgrens vervoer word nie. (´n Pasiënt mag byvoorbeeld nie deur die ambulansdiens wat in Ermelo gestasioneer is na Middelburg afgevoer word nie Die naaste privaat hospitaal is buite hul gebied.)
Bogenoemde is nogal angswekkend!
By CrisisOnCall het ons hierdie probleem reeds ´n paar jaar gelede geïdentifiseer en iemand met die nodige kennis aangestel om ambulansdiensverskaffers te evalueer en te akkrediteer. In kontras met die boodskap wat Carte Blanche oordra, is daar tog baie privaat ambulansdienste wat oor opgeleide personeel beskik en volgens wetgewing en protokol optree. In ´n stad soos Pretoria (Tshwane gebied) is daar nie minder nie as 34 verskillende privaat ambulansdienste. CrisisOnCall gebruik slegs ses van die 34 – hulle voldoen aan al die vereistes en is dus geakkrediteer om ons kliënte af te voer.
Omdat ons kliënte ´n identifikasiebandjie dra, weet ons oproepsentrum gewoonlik vinnig van ´n insident aangesien ´n mediese persoon op die toneel vir mediese inligting skakel. Daar en dan word die diensverskaffer teenoor die lys van diensverskaffers getoets en kan ons dus dienooreenkomstig optree waar nodig CrisisOnCall kliënte kan dus verseker wees dat hulle ten alle tye die beste opgeleide paramedikus/ambulansdiens sal kry om hul lewe te red.
Omdat CrisisOnCall die rekening betaal, indien dit deur die ambulansdiens by ons ingehandig word, maak dit ook nie saak wat die mediese fonds vereis nie. Ons gebruik altyd die naaste geakkrediteerde ambulansdiens. Op die platteland sal ons kennis dra van ´n situasie waar die Staatsambulans betrokke is en daarom sal ‘n diensverskafferambulans uitgestuur word om die pasiënt na ´n privaat hospitaal af te voer.
|
|
Het jy geweet?
- Trauma tref een uit elke 15 Suid Afrikaners elke jaar.
- Elke 31 minute sterf iemand as gevolg van ‘n motorbotsing op die Suid-Afrikaanse paaie.
- Vir elke padsterfte word 85 mense vir behandeling in ‘n hospitaal opgeneem.
- Gebrek aan tydige toepaslike inligting lei tot foutiewe mediese gehandeling van een uit elke agt pasiënte.
|
|
Kom ons verkeer sosiaal!
CrisisOnCall is op verskeie sosiale netwerke waar jy jou kommentaar kan lewer en inligting kan bekom.

|