Agri Noord Kaap -RPO stel beswaarskrif op teen OBPDie RPO is beswaard oor die OBP en gaan dit met die raad en uitvoerende hoof opneem.

Die RPO het sy kommer oor die diens van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) uitgespreek en gaan ’n beswaarskrif aan die raad en uitvoerende hoof van OBP rig.

Die kongres van die Noord-Kaapse RPO het in Kimberley sy kommer in ‘n beskrywingspunt uitgespreek oor die hoë prysstyging van OBP se entstof die afgelope jare, asook die beskikbaarheid daarvan.

Mnr. James Faber, Noord-Kaapse voorsitter van die RPO, sê die gesondheidstatus van die land se veestapel is in die gedrang indien ‘n siekte soos slenkdalkoors uitbreek en boere onverhoeds sonder die nodige entstof betrap. Die RPO gaan ook dr. Steven Cornelius, OBP  se uitvoerende hoof, vir samesprekings nooi om skakeling met OBP te verbeter.

OBP het onlangs sy planne bekend gemaak om regstreeks met die farmaseutiese bedryf mee te ding. Dit het meegebring dat OBP sy verspreidingsvennootskap met Bayer beëindig het. OBP het besluit om eerder sy eie produkte na koöperasies en veeartse te versprei.

Leë beloftes
Dr. Koos Louw, voorsitter van die Noord-Kaapse Dieregesondheidsforum, sê leë beloftes van dienslewering deur OBP help nie produsente wat nie hulle diere “met slegs beloftes”  kan ent nie.

Mnr. Stiewie Zwiegers van Hopetown het OBP se prysstyging die afgelope vier jaar bevraagteken. Volgens hom het die prys van die entstof teen bloednier sedert 2013 met sowat 46% verhoog, dié teen bloutong met 73%, pasteurella met 144% en Multivax P met 33%. Hy het ook die feit betreur dat entstof teen bloednier tans onverkrygbaar is, net soos die entstof teen bloutong en pasteurella vroeër.

Mnr. Kenneth Malahlela, nasionale verkoopsbestuurder van OBP, het in sy reaksie gesê die eerste besending van 400 000 dosisse van die entstof S19 teen brusellose sal na verwagting ná 10 Junie beskibaar wees ná ‘n lang toetstydperk om die gehalte daarvan te verseker. OBP beplan nog twee besendings vanjaar.

 Bestellings op waglys
Volgens dr. Faffa Malan, ’n onafhanklike konsultant, moet alle verse tussen die ouderdom van vier en verkieslik ses maande teen brusellose ingeënt word. “Boere moet dadelik die entstof bestel, aangesien die bestellings op ’n waglys eerste gediens sal word.”

Volgens Malahlela sou OBP se eie bemarking van sy entstof  van 1 April 2016 af ‘n afname van sowat 25% in die prysvlak teweeg bring. Beswaar uit die bedryf oor die bestaande voorraadvlakke het egter dié planne in die wiele gery.

OBP is tans besig om met agribesighede te onderhandel en hulle te registreer. Ander faktore wat OBP se huidige verspreidingsplanne bemoeilik, is probleme met koeriers om die handhawing van die koue ketting van die produk te verseker. Wissekoerswisselings dra ook by tot hoë pryse van entstof wat ingevoer word.

Agri Noord Kaap

 

Share This