Die ANC het besluit dat die Land Bank terug moet skuif na die Departement van Landbou toe.
Die mandaat van die Land Bank sal hersien word en hy sal weer terug na die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye geskuif word, het die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die ANC besluit.
Die Land Bank is in 2008 onder die vlerk van die Tesourie ingeskuif nadat hy in die moeilikheid geraak het. ’n Forensiese oudit het onder meer bevind dat die bank lenings buite sy mandaat toegestaan het toe hy onder die ou Departement van Landbou en Grondsake geval het.
Mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het op ’n nuuskonferensie ná ’n vergadering van die NUK die terugskuif van die bank verduidelik.
“Boere op kommunale grond het nie toegang tot geld van die Land Bank nie, want hulle het nie titelaktes nie. Maar op daardie kommunale grond kan kos geproduseer word en bydra tot voedselsekuriteit en ’n ontwikkelingsinstelling moet hierdie werklikheid méér as ’n kommersiële bank verstaan.
Werk in die sektor
“Een manier hoe dit kan, is wanneer hy met daardie sektor (die landbou) werk,” het Mantashe gesê.
Sentraal in hierdie besluit van die NUK is dat spesiale aandag nodig is sodat produksie plaasvind op grond wat herverdeel is. Ondersteuning, soos die toegang tot geld en markte, gehalte en effektiewe voorligtingsdienste en infrastruktuur was onder andere uitgelig om produksie te verbeter. “Dit (Land Bank) sal nou terug na die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye geskuif word en sy mandaat sal hersien word.
“Daar sal ’n spesiale fokus wees op landelike gebiede, -dorpe en alle ander gebiede waar dienste kortskiet.”
Mnr. Omri Van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, het gesê dit is belangrik dat die bank wat ’n instelling vir ontwikkelingsfinansiering is, sy mandaat en dienste aan kommersiële kliënte behou. Die bank het tot onlangs uitstekend gevaar met die omdraaistrategie, ongekwalifiseerde oudits en ’n groeiende kliëntebasis die afgelope drie jaar en ’n jaar tot jaar bategroei van ongeveer 14%.
Skoon oudits
Dit is van kritiese belang dat die bank onder die wetgewing funksioneer wat dit in werking gestel het en dat die oudit en “skoon” rapportering behou word. “Enige moontlikheid van bedrog en korrupsie moet afgeweer word.”
Van Zyl het aangedui dat Agri SA bekommerd is oor wat die uitwerking daarvan op die leningsterme met die finansierders is. “Die Land Bank het ongeveer 30% van die landbouboek in Suid Afrika en as dié terme verbreek sou word, sou die instansie nie institusionele steun kry om die bank te ondersteun nie.”
Hy het ook uitgewys dat kontantvloei en die groei van die bank van groot belang is. ’n Situasie dat die bank weer ’n probleem met toegang tot kapitaal sal hê, sal baie skade doen.