’n Groep van 31 melkboere in die KwaZulu-Natalse Middelland het in hul eie verwerkingsaanleg belê om meer van die verbruiker se rand in hul eie sak te verseker.
Die indrukwekkende Dairy Day-fabriek langs die N3-hoofweg net buite Howick in KwaZulu-Natal is die nuwe tuiste vir 31 KZN melkboere se melkprodukte.
Dairy Day is reeds in Augustus 2014 in die lewe geroep. Volgens mnr. Paul Marshall, uitvoerende hoof van Dairy Day, was hul doel om beter diens aan hul kliënte te lewer deur konsekwente voorsiening van produkte en prys.
Gedurende 2015 het die groep twee plaaslike verwerkingsmaatskappye, Stonelees Dairies en Honeydew Dairies bekom. Terselfdertyd is die konstruksiewerk aan die nuwe, hoogs moderne Dairy Day verwerkingsaanleg net buite Howick begin. In Desember 2015 het Dairy Day die eerste melk van aandeelhouers ontvang.
Boere en werkers het aandele
Die 31 boere besit 85% van die aandele in die maatskappy, proporsioneel tot die hoeveelheid melk wat hulle aan die aanleg kan lewer. Die oorblywende 15% behoort aan die Dairy Day-plaaswerkertrust waarvan die begunstigdes die plaaswerkers by die aandeelhouers is.
Meeste van die 31 Dairy Day-aandeelhouers het voorheen aan gevestigde verwerkers melk gelewer. “Met Dairy Day is ons leweransiers ook Dairy Day se aandeelhouers en deel dus in die winste, wat die risiko uitskakel om voorsiening te verloor weens verskaffers wat vir kort termyn-prysvoordele vir ander verwerkers sal melk lewer. Anders as ander koöperatiewe of organisasie, waar die produsente die aandeelhouers is, is ons gefokus daarop om ’n diens aan ons kliënte, die supermarkte, te lewer en nie net ’n generiese produk nie. Op hierdie wyse bou ons aansien vir ons handelsmerke en skep ons waarde vir ons aandeelhouers,” sê Marshall.
Dairy Day, wat tot 600 000 liter melk per dag kan verwerk en wat meer as 1 700 mense in diens het, verpak private handelsmerke vir kettingwinkels en vervaardig ook sy eie produkte onder die Honeydew-handelsmerk.