Heelwat boere sal hul skuld moet herskeduleer, maar sal steeds vir produksiekrediet vir die komende seisoen kwalifiseer, meen die landbousakekamer Agbiz.
Die meeste boere in die somersaaigebiede sal ondanks die droogte hul produksieskuld kan diens, sê die landbousakekamer Agbiz.
In die somersaaigebiede is die afrekeningsdatum vir produksielenings 30 Augustus. Volgens dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, het die droogte in die algemeen boere se finansiële situasie laat verswak, maar ʼn Agbiz-opname wys dit is nie katastrofies nie.
“ ʼn Beduidende getal sal hul skuld moet herskeduleer, maar sal steeds vir produksiekrediet vir die komende seisoen kwalifiseer.
“Daar is ʼn spesifieke groep met totale skuld van sowat R1 miljard wat nie sal kwalifiseer nie. Ondersteuning is nodig om die verdienstelike en kwalifiserende boere in dié groep te help om in produksie te bly.”
Laat somerreëns
Die droogte se invloed verskil, maar Purchase sê vir gewasboere was daar ʼn mate van verlies danksy laat somerreëns wat laat aanplantings moontlik gemaak het, die later koue en ryp, die gevolglike goeie opbrengste, en hoër as normale pryse.
Baie veeboere is egter tans desperaat besig om te probeer om hul teelkuddes deur die moeilike laaste deel van die winter te kry, voordat lentereëns hopelik middel Oktober begin. In sekere gevalle is hulp in die vorm van voer en water nodig om hulle te help om te oorleef, sê Purchase. In die algemeen is boere se balansstate nie swak of uitgeput nie, maar kontantvloei is ʼn groot probleem.
Purchase sê banke en landboubesighede het almal ooreengekom dat hulle boere sal help waar moontlik om vir die volgende seisoen produksiekrediet te kry, binne hul eie vermoëns en kredietkriteria.
Hulle sekwestreer nie boere nie behalwe as dit absoluut noodsaaklik is weens risiko, kredietkriteria, en die Nasionale Kredietwet se bepaling oor die assessering van bekostigbaarheid.
Reeds reëlings getref
Mnr. Ernst Janovsky, hoof van Absa Agribesigheid se sentrum vir uitnemendheid, sê die meeste boere het, indien nodig, reeds reëlings rondom hul lenings getref.
Hy het vertel van ʼn boer by Biesiesvlei in Noordwes wat op sowat die helfte van sy grond opbrengs van meer as een ton per hektaar gehad het. “Sy kop is deur, danksy prys en die wisselkoers.”
Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, sê hoewel alle boere nog nie klaar geoes het nie, is dit reeds moontlik om te sê daar sal na verwagting min boere wees wat nie hul produksieskuld kan betaal nie.
“FNB, en ek glo ook die ander banke, sal eers probeer om die boer so lank moontlik op die plaas en in produksie te hou, voordat drastiese stappe gedoen word.”
Herstrukturering
Die getal boere wat om herstrukturering aansoek gedoen het, is volgens hom minder as wat verwag is.
Mnr. Bennie van Rooy, finansiële hoof van die Land Bank, het aan Marleen Smith gesê die bank ondersteun in die algemeen boere wat nie hul produksiekrediet kan terugbetaal nie, mits sekuriteit in plek is, en verwagte toekomstige kontantvloei ʼn verhoogde fasiliteit ondersteun.
Dit is volgens Maree nie noodwendig ʼn gegewe dat minder krediet vir die volgende seisoen toegestaan sal word nie.
“Daar is ʼn goeie kans dat ons selfs meer as verlede jaar kan toestaan, omdat ʼn beter seisoen verwag word en boere daaruit en uit die beter pryse sal wil voordeel trek,” sê Maree.
“Boere se reserwes kan ook moontlik uitgeput wees en hulle kan dus meer afhanklik van krediet wees.”
* Lees ook die berig: Maermaak en doodmaak-maand kom