Die voorsitter van Mpumalanga Landbou, mnr. Gideon Anderson, het tydens die organisasie se kongres by Nelspruit gesê dat die landbou lankal nie meer die stortingsterrein vir ongeskoolde arbeid is nie.
“Benewens die feit dat wetgewing wat minimum lone verpligtend maak, verseker dat boere na werkers soek wat meer doeltreffend hulle werk kan verrig, het landboutegnologie so gevorderd geword dat die bedryf dit lankal nie meer kan bekostig om mense in diens te neem wat net die basiese dinge kan doen nie,” het hy gesê.
Inteendeel, het Anderson gesê, boere is meer as gewillig om meer as die minimum loon te betaal vir werkers wat met hoogs gevorderde tegnologie kan werk.
Ondersteun grondhervorming, nie goedkoop politiekery
Anderson het ook gesê dat terwyl Mpumalanga Landbou grondhervorming ten volle ondersteun, projekte ekonomies sin moet maak en werk moet skep.
“Die projekte moet ook binne die land se Grondwet geskied en nie tot lede van Mpumalanga Landbou se nadeel wees nie,” het hy gesê met verwysing na die premier van Mpumalanga, mnr. Mnr. David Mabuza, se plan om 60 trekkers, sowel as ’n aantal viertrekvoertuie aan tradisionele leiers binne die provinsie te skenk.
“Ontwikkelende boere het die fondse wat gebruik word om hierdie voertuie aan te koop baie meer nodig. Vir ons is die roekelose uitgee van hierdie fondse niks anders as minagting vir die belang van volhoubare voedselproduksie nie. Dit is niks minder as goedkoop politiekery nie, en pogings om die lojaliteit van belangrike mense te koop, gaan nie die situasie van volhoubare voedselproduksie beredder nie,” het Anderson gesê.
Hy het boere ook aangemoedig om meer betrokke te raak by die georganiseerde landbou, sodat organisasies soos Mpumalanga Landbou boere se saak beter kan verteenwoordig. “Die organisasie is net so sterk soos die kleinste boerevereniging en die georganiseerde landbou se impak kan gemeet word aan die betrokkenheid van selfs die kleinste boerevereniging.
“Daarom moedig ek ons boere aan om hul stemme te laat geld en om betrokke te raak by hulle plaaslike boereverenigings. Uitdagings vir die landbou het net toegeneem, maar ons fokus gaan eerder wees op die positiewe as om ons van stryk te laat bring deur negatiewe faktore wat die landbou in die wiele probeer ry,” het hy gesê.