+ 27 53 832 9595
June 2015
Kommunikasie met CrisisOnCall

Neem asseblief kennis dat alle administratiewe en finansiële kommunikasie vanaf 7 Mei 2015 direk met die CrisisOnCall kantore moet geskied. Die telefoonnommer is 0861 57 47 47 en kies dan die toepaslike opsie.

Vir e-pos kommunikasie gebruik asseblief members@crisisoncall.co.za

LET WEL: Geen kommunikasie moet met Rock Solid Network vanaf hierdie datum plaasvind nie. Vee asseblief die e-pos adres rsn@netactive.co.za uit.

Alle versoeke vir noodbystand en -dienste moet asseblief steeds deur die oproepsentrum geskied. Skakel 0800 911 911 en kies die toepaslike opsie.

Neem asseblief ook kennis dat debietorderverwysings op u bankstaat in die toekoms soos volg sal wees:

QES COC en u lidnommer bv QES COC AAA000101

karstoeltjieDorp vat hande

Die Middelburg Observer van 6 Mei 2015 het oor ‘n geval berig wat mens se hart sommer weer vinnig laat klop.

Verweef in die storie van ʼn kind, klein Aiden (18 maande), wat op daardie oomblik vir sy lewe geveg het, is daar ook een van hoop, een van vreemdelinge wat hande vat en een van uitkoms in nood.

Sy ma het hom in hul swembad aangetref waar hy op die water gedryf het. Aiden se oupa het dadelik begin noodhulp toepas. Sy ma het om hulp geroep op hul gemeenskapsradio. Paramedici van ER24 was kort daarna ook op die toneel en het oorgeneem. Hulle kon Aiden se hartklop terugkry en hom voorberei om na ʼn hospitaal afgevoer te word.

Die radiogroeplede het gehelp om die paaie af te sper en die ambulans het die rit na die hospitaal in minute afgelê. Toe kom die nuus: Aiden se ouers het nie ʼn mediese fonds nie en moes hy noodgedwonge na ʼn staatshospitaal oorgeplaas word.

Soos een man het vreemdelinge in Middelburg hande gevat. Oral is gebedskettings gevorm. Oupa het selfs gesê hy sal al sy besittings verkoop en onder ʼn brug gaan bly om vir sy kleinkind se behandeling te betaal.

ʼn Sakeman van die dorp het vinnig R5,000 in die oupa se hand gestop. Twee ander sakemanne wat oor die radio van die geval gehoor het, het die res van die rekening by die trauma eenheid gaan betaal.

Hierna het hulle begin reël vir ʼn noodhelikopter om Aiden na die Garden City hospitaal te vlieg aangesien dit die naaste plek was waar hy werklik hulp sou kon kry. Die een sakeman het sommer daar en dan die koste van die helikopter betaal. Die gemeenskap skarrel behoorlik om geld in te samel om Aiden se kostes by die hospitaal te betaal.

Hierdie laat mens sommer weer ʼn trots in jou medemens kry.

Klein Aiden het ongelukkig op 21 Mei 2015 in die hospitaal gesterf.

Ons praat padbystand

Wanneer word ‘n voertuig se insleep gedek deur korttermynversekering en wanneer deur ‘n padbystandkontrak? Baie lede van die publiek is onseker hieroor en het hierdie vraag al tot heelwat misverstande en ontevredenheid gelei.

Padbystand hou verband met ‘n voertuig wat gestrand raak as gevolg van een van die volgende redes:

 missing

  1. Meganiese of elektroniese disfunksie van die voertuig.
  2. Geen brandstof.
  3. Pap wiel waar die wiel pap geraak het sonder enige ongeluk/botsing.
  4. Pap battery.
  5. Sleutels wat in die voertuig toegesluit is.
  6. Betaal van die insleep van die voertuig na die naaste agent of herstelpunt.
  7. Telefoniese herlei van boodskappe na naasbestaandes en werkgewer.

Korttermynversekering verleen bystand wanneer die voertuig gestrand raak as gevolg van ‘n botsing of strukturele skade as gevolg van die een of ander onvoorsiene situasie, soos byvoorbeeld:

  1. Botsing.
  2. Skade aan die voertuig as gevolg van swak padtoestand, byvoorbeeld los of skerp klippe, los sand, gladde padoppervlak.
  3. Skade aan die voertuig as gevolg van die tref van ‘n voorwerp in of langs die pad, byvoorbeeld los rotse, boomstompe, groot klippe, gemors in die pad, bome, padtekens, ens.
  4. Skade aan ‘n voertuig as gevolg van slaggate in die pad.
  5. Enige ongeluk skade.

Indien ʼn lid se voertuig nie vir padbystand by CrisisOnCall geregistreer is nie, sal die insleep/hulp steeds gereël word, maar alle kostes sal vir die rekening van die kliënt wees.

Indien die voertuig by die kliënt se korttermynversekering geregistreer is, kan versoek word dat CrisisOnCall die lid deurskakel na sy korttermynversekering se hulpnommer.

Dankie vir reismonitering

Davis en Nelia Booker skryf die volgende: “Graag wil ek en my eggenote ons dank en waardering betuig teenoor CrisisOnCall vir uitmuntende diens tydens ons onlangse toer van 4,500 km deur die Vrystaat en Oos-Kaap vanaf 15 April tot 4 Mei 2015.

Die reismonitering wat ons elke dag op die pad beleef het, was uiters gerusstellend. Nie net was die gereelde oproepe om vordering te monitor, vriendelik en belangstellend nie, dit was asof ons ‘n reisgenoot op die pad gehad het en dit het voortgeduur tot op die bestemming vir die bepaalde dag.

Toe ons voertuig op 30 April te King William’s Town onklaar raak, was dit veral Rita se sorgsaamheid wat vir ons besonders was. Haar moeitevolle betrokkenheid om ons veiligheid te verseker en om werktuigkundiges op te spoor, was besonders.

Wees verseker dat u nog lank met ons opgeskeep gaan wees na hierdie toer!!”

Seminare wat jou lewe kan verander

Toe ek nou sit en dink oor wat om dié keer oor Lewensverryking te skryf, kom die naam CrisisOnCall in my gedagtes. En ek sien ʼn belangrike ooreenkoms. Mens lees gereeld in die maatskappy se nuusbrief hoe iemand op ʼn individu se noodroep reageer het. As mens deel is van CrisisOnCall bring dit vir jou groot gemoedsrus. Die krisisse kan maar kom, daar is iemand wat sal hoor as ek roep.

Hoeveel meer is dit nie waar van ons Hemelse Vader wat hoor as ons roep nie. Vir my as gelowige is dit ʼn vashouplek soos nêrens anders nie. By die seminare wat Lewensverryking aanbied, is dit keer op keer die terugvoer wat ons kry: die Here het my noodroep gehoor en beantwoord.

Ons deel graag weer twee manne se getuienisse van wat die April seminaar vir hulle beteken het:

  • Die seminaar was vir my ʼn lewensveranderende ervaring wat my nader aan my vrou en ook weer nader aan my Skepper gebring het. Die hoogtepunt van die seminaar was die breinprofiele en die emosionele behoeftes. Nou verstaan ek hoekom ek en my vrou nie saam kon stem oor goed nie – Wian
  • Dat ons by die seminaar aangekom het, was al klaar ʼn wonderwerk. Maar dit het nie daar gestop nie – die hele naweek was ʼn wonderwerk. Ek het vry gekom van my verlede. Dit was so wonderlik. Ek het weer nuut en heel geword in myself. Ek kan getuig dat die Here deur die werke van die seminaar en die Heilige Gees my egskeiding op die rotse laat loop het. Dit is ʼn heel nuwe huwelik en heel nuwe lewe wat ek hier mee weggaan. Alles was ʼn hoogtepunt. Dit het net hoër en hoër gegaan. – Corné

Ons is só dankbaar dat getuienisse soos dié volop is na ʼn Lewensverryking seminaar. Die eer kom ons nie toe nie. Dis ons groot en almagtige God wat hierdie dinge doen.

Die volgende seminare is:

  • 12 – 16 Junie – Huwelikseminaar, Middelburg
  • 19 – 21 Junie – Huweliksvoorbereiding, Swellendam
  • 10 – 14 Julie – Tienerseminaar Kwaggasrus
  • 7 – 10 Augustus – Enkel – Middelburg
  • 14 – 16 Augustus – Huweliksvoorbereiding, Middelburg

Kontak ons by info@lewensverryking.co.za of bel ons by 012 546 8098. Gaan kuier ook gerus op ons webwerf by www.lewensverryking.co.za.

Dra die korrekte bandjie

Lede word versoek om die bandjie te dra wat teenoor hulle naam op die administrasiestelsel aangeteken is. Dit sal verseker dat ʼn professionele en flinke diens ten alle tye gebied kan word. Paramedici het nie altyd tyd om te soek vir inligting nie. Hoe vinniger die inligting beskikbaar raak in ʼn noodsituasie, hoe vinniger kan aksies geneem word om ʼn lewe te red.

Onthou, die CrisisOnCall identifikasiesisteem is ontwikkel deur die gebruiker vir die gebruiker. (Paramedici)

missing

Ek het al die dienste by my korttermynversekering

Soms word daar geredeneer dat die dienste wat CrisisOnCall bied, reeds deur korttermynversekeraars aangebied word. Dink weer! Geen versekeraar bied ‘n krisislyn soos deur CrisisOnCall ontwikkel, effektiewe identifikasie en die reismoniteringsdiens om maar ʼn paar te noem, nie. Korttermynversekering is wat dit sê, versekering. CrisisOnCall is nie versekering nie en vul die gaping tussen die insident en die mediese fonds/korttermynversekering.

Share This