+ 27 53 832 9595
Agri Noord Kaap - Groot, ontwikkelde wildplaas onder hamer

Die plaas Diepkuil het wildsheining reg rondom en bied ’n mooi uitsig op die Kransberge.
Foto: www.plase.co.za

’n Ongewone wildsplaas naby Thabazimbi kom 11 Augustus onder die hamer.

Plase met goeie ligging, grootte en ontwikkeling, soos Diepkuil, kom min in die mark , sê mnr. Hendrik Nel, afslaer van CG Afslaers. Mnr. Willie de Swardt, die huidige eienaar, verkoop omdat hy meer tyd aan sy ander sakebelange wil bestee. Diepkuil is 1 860 ha groot, “groot genoeg om te jag én met wild te teel”, sê De Swardt. Daar is vyf wildskampe en een bulkamp. Die teelkampe beslaan 400 ha.

Op die plaas word met eksotiese wild, soos buffels, swartwitpense, swart rooibokke, goue wildebeeste, bastergemsbokke en njalas geboer. Die wild gaan op dieselfde veiling onder die hamer kom. Nel sê ligging is ook bepalend vir ’n wildsplaas se prys. “Dit moet nie te naby aan woongebiede wees nie, maar nie te ver van die Witwatersrand nie.”

De Swardt sê Diepkuil is 22 km vanaf Thabazimbi geleë, “ver genoeg om nie ’n misdaadprobleem te hê nie, maar naby genoeg om kinders skool toe te kan neem”. Die plaas is aan ’n teerpad geleë, met die vierslaapkamer-hoofhuis 2 km van die pad af. Daar is ook ’n vierslaapkamer-jagtershuis en tweeslaapkamer-rondawel. Nel sê ’n ander faktor wat prys beïnvloed, is water-verspreiding. Diepkuil het drie sementdamme en vier toegeruste boorgate met dompelpompe.

Natuurskoon is ook belangrik. Diepkuil het ’n groot verskeidenheid bome, veldsoorte, bosse en koppe, en ’n hoë drakrag vir koedoes. De Swardt sê ontwikkelde wildsplase in die omgewing word vir tussen R11 000/ha tot R15 000/ha verkoop, maar daar was al ’n buitelander wat tot R25 000/ha betaal het toe hy ’n klomp plase wou koop en sommige boere aanvanklik nie wou verkoop nie.

NAVRAE: Mnr. Hendrik Nel, tel. 082 491 8289. Web: www.plase.co.za

Agri Noord Kaap

Share This