+ 27 53 832 9595
Agri Noord Kaap - Grondplafon - SA kan nie eksperimenteer

Lugfoto van produktiewe plaas Foto: AlbaFarmers.org

Suid-Afrika kan glad nie bekostig om te eksperimenteer met grondplafonne, wat internasionaal so klaaglik misluk het nie, sê mnr. Johannes Möller.

Agri SA het in ʼn nuusverklaring gereageer op die jongste uitlatings van Grondsakeminister Gugile Nkwinti oor grondplafonne.

“Minister Nkwinti het op 26 April tydens sy begrotingsrede gesê dat die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit, in terme waarvan die hoeveelheid grond wat enige individu of entiteit mag besit, beperk sal word, gedurende Junie in die Parlement ter tafel gelê sal word. Meer onlangs, op 21 Mei is berig dat die Minister tydens ‘n grond-oorhandiging seremonie in die Kruger-wildtuin gesê het dat perke van tussen 1000 hektaar en 12 000 hektaar toepassing sal vind en dat die Regering die grond wat meer is as die vasgestelde plafon, sal koop en herverdeel.”

Möller sê dié wetsontwerp sal ook die besit van grond deur buitelanders verbied. Die minister het reeds verlede jaar aangekondig dat hy voortgaan met sodanige wetgewing.

“Tot op datum is die wetgewing nog nie gepubliseer vir kommentaar of ingedien by die Parlement nie. Daar is al sedert 2011 met die bekendstelling van die Groenskrif op Grondhervorming sprake van sogenaamde grondplafonne. Agri SA het van meet af aan sterk standpunt hierteen ingeneem en deurgaans goed-gemotiveerde ekonomiese-, voedselsekerheids- en grondwetlike argumente teen grondplafonne op die tafel geplaas.

Minister stel werkgroep aan
‘n Werkgroep is deur die minister gestig, waaraan Agri SA ook deelgeneem het en onafhanklike kundiges die werkgroep adviseer.  Die meerderheid van hierdie kundiges het ook teen die instel van grondplafonne gewaarsku,” het Moller bygevoeg.

“Internasionale ervaring met grondplafonne dui onder andere daarop dat dit allerlei negatiewe gevolge gehad het, soos die fragmentasie van landbougrond, negatiewe impakte op produktiwiteit, swak winsgewendheid van landbou-ondernemings, min tot geen positiewe impak op armoede-verligting, hoë administrasiekoste en ‘n negatiewe impak op investering in die sektor.

“Ons kan verseker nie bekostig om te eksperimenteer met iets wat internasionaal so klaaglik misluk het nie, ons dobbel met ons voedselsekerheid”, het Möller gesê.

Agri SA wag die publikasie van die wetsontwerp af en sal dit onmiddellik deur senior regslui laat nagaan, het hy gesê.

Agri Noord Kaap

Share This