+ 27 53 832 9595

Agri Noord Kaap - Die kostes van voertuiglisensies stygBoere moet asb kennis neem dat die Departement van Vervoer nie meer kennisgewings aan voertuigeienaars stuur om hulle in te lig dat voertuiglisensies verval nie. Boere moet dus hulle voertuie se lisensies stip dophou om dit betyds te hernu.

Voertuigeienaars kan op die eNatis sisteem gaan registreer om elektroniese kennisgewings te ontvang en die proses van hernuwing te vergemaklik. Besoek gerus dié webtuiste by http://www.enatis.com/.

Verder het die departement ook ’n kennisgewing uitgereik waarvolgens voertuiglisensiekostes op 1 Junie 2016 met tussen 4% en selfs soveel as 600% gestyg het.

’n Styging van 4% sal geld vir voertuie met ’n leë gewig (TARE) van 0 – 1250, en 6% vir voertuie met ’n TARE van 1251 – 1750. Die koste vir lisensies vir voertuie met ’n TARE van 1751 – 2250 sal met 7% styg van R672 na R720.

Swaarder voertuie met ’n TARE van 2251-2750 se lisensiekostes styg aansienlik met 24% van R810 na R1 008, terwyl TARE 2751-3000-kategorie voertuie se lisensies 36% duurder is met ’n styging van R942 na R1 248. Die TARE vir alle kategorieë sleepwaens is met 5% aangepas van R132 na R139.

Die hoogste styging, 594%, geld vir insleepvoertuie met ’n TARE van 0-250 wat styg van R132 na R876. Insleepvoertuie met ’n TARE van 251-750 betaal 224% duurder, met ’n styging van R270 na R876, terwyl dié voertuie met ’n TARE van 751-1500 115% meer betaal met ’n styging van R408 na R876.

In die lig van die droogte en die heersende ekonomiese situasie, sal Vrystaat Landbou (VL) Agri SA versoek om dringend met die departement oor dié verhogings te praat.

Agri Noord Kaap

 

Share This