Alle landbou-paaie lei dié week na die Nampo-Oesdag, wat van 17 tot 20 Mei die 50ste keer aangebied word.
Werktuie, tegnologie, gebruiksartikels en allerlei landbouverwante dienste en produkte is van 17 tot 20 Mei te sien op die Nampo-Oesdag, buite Bothaville. Dit is die grootste landbouskou in Suid-Afrika.
Of jy nou kyk na ’n nuwe bakkie of gesinsmotor wat ’n grondpad kan baasraak, of ’n vragmotor wat enigiets van vee tot perskes moet vervoer, kan jy seker wees die meer as 650 uitstallers op die Oesdag bied ’n keur van handelsname. Vanjaar word meer as 70 000 besoekers verwag.
Tientalle vervaardigers van voertuie, werktuie, onderdele en bybehore het by een geleentheid op een perseel uitstallings en demonstrasies. Dit gee voornemende kopers genoeg kans om alles deeglik te vergelyk.
Besoek gerus die daaglikse praktiese demonstrasies van viertrekvoertuie en ’n magdom statiese uitstallings van ligte vierwielvoertuie, motorfietse, bakkies, motors, groot en klein vragmotors.
Die 4×4-demonstrasies word elke dag om 10:00 en weer om 14:00 by standplaas 152B gehou.
Boereplanne:
Mense met goeie boereplanne kry vanjaar die 27ste keer die kans om hul vindingrykheid in die boerepatentekompetisie teen ander se vernuf op te weeg. Graan SA en Omnia bied die geleentheid aan. Skougangers sal voorbeelde van dié planne kan sien in die uitstalruimte van die Omnia-boerepatente by standplaas 104.
Inkopies:
Besoek ook Landbouweekblad se stalletjie in die Nampo-saal en koop die eerste uitgawe van Landbouweekblad Boereplanne en die tweede uitgawe van Landbouweekblad Vee. Die agtste en nuutste uitgawe van die gewilde Boerekos-reeks is ook beskikbaar. Kom kyk ook na die Landbouweekblad-klerereeks, Boerekos-kombuisgeskenke en ’n verskeidenheid handboeke en geskenke in die Landbouweekblad-winkel.
Veebedryf:
Sowat 50 verskillende uitstallings van telersgenootskappe en telers verteenwoordig die trots van die Suid-Afrikaanse veebedryf.
Elke dag het hoogtepunte, maar volg gerus die algemene program. Dit sluit in die vertoning van beesrasse (elke dag om 15:00 langs die Caltex-saal), ’n perdevertoning (elke dag om 16:00) en die skaapskeer- en wolklasdemonstrasies.
Navrae: Graan SA bied die Nampo-Oesdag aan. Webwerwe: www.graansa.co.za of www.nampo.co.za