|
Augustus 2014
|
Die werklike rede vir botsings
Die afgelope jare is daar gereeld veldtogte gehou oor spoed wat die meeste botsings veroorsaak. Navorsing, waarby onder andere die AA (Automobiel Assosiasie) betrokke is, het egter getoon dat die chaos op die paaie meestal deur ander oortredings veroorsaak word.
Volgens die AA het voertuigbotsings in 1998 die land R42,5 miljard gekos. Na raming het dit in 2013 die land R300 miljard gekos. In 1998 was die sterftes op ons paaie 9 068 en in 2013 was dit meer as 15 000. Toegegee, daar is baie meer voertuie op die pad, maar aan die ander kant is snelweë juis verbreed en verbeter om verkeersvloei te komplimenteer. Die klem het te lank op spoed alleen geval as die oorsaak vir padsterftes. Gevaarlike bestuursgewoontes en die gesindheid van voertuigbestuurders speel ʼn toenemende rol in voertuigbotsings. Neem verder in ag dat ongeveer die helfte van padsterftes voetgangers is, dan is dit duidelik dat spoed nie alleen blameer kan word nie.
Busongelukke in Suid-Afrika is byvoorbeeld die ergste in die wêreld. Swaar vragmotors neem ook toe op ons paaie. Op die foto kan gesien word hoe onverantwoordelik sommige voertuigbestuurders is. CrisisOnCall wil sy stem by die AA voeg en versoek dat daar eerder op gevaarlike en onbevoegde bestuurders gefokus word. Die volgende ooglopende gevare moet aangespreek word: gevaarlike verbysteekpogings, volgafstande, padwaardigheid van voertuie en oortredings by verkeersligte.
Die nuutste syfers toon dat daar elke 35 minute iemand op ons paaie sterf. Die land met die hoogste padsterftesyfer is Indië met een sterfte elke vyf minute.
ʼn Klemverskuiwing kan noodlottige botsings met tot die helfte verminder.
(Bron: AA verslag en Beeld van 17 Julie 2014)
|
|
Inhoud
- Die werklike rede vir botsings
- Selfone en bestuur
- Ontmoet een van ons begaafde led
- Waarom is lidmaatskap van CrisisOnCall so belangrik?
- Vakansie eindig tragies
- Vergelyking van Ciska en Jeandré se gevalle
- Reismonitering is noodsaaklik op die langpad
- Persoon van die maand
- Ontmoet ons diensverskaffers – ER24
Selfone en bestuur
Daar word hopeloos te min aandag gegee aan die gebruik van selfone terwyl mense bestuur. Baie mense praat op ‘n selfoon of stuur/lees teksboodskappe terwyl hul bestuur. Hierdie tendens trek die motorbestuurder se aandag van die pad af en het al baie ernstige en noodlottige botsings veroorsaak. Die wet is baie duidelik, geen motorbestuurder mag ʼn selfoon gebruik (praat of teks) terwyl hy bestuur nie. Ons moet nie altyd wag op wetstoepassers om dit aan te spreek nie. Hierdie gaan oor selfdissipline!
|
Ontmoet een van ons begaafde lede
CrisisOnCall plaas graag artikels oor lede en hul gesinne wat presteer. Vandag is Chené Oosthuizen ons gas.
Chené Oosthuizen is tans in graad 10 by Hoërskool Wagpos in Brits. Sy is al die afgelope nege jaar ʼn lid van CrisisOnCall en baie trots op haar bandjie. Chené is ʼn kranige sportvrou en neem deel aan atletiek, hokkie, netbal, sagtebal, skyfskiet en ook boogskiet. Sy is lid van die Landsdiens, Kleinboere Vereniging en was in graad 8 op die leerlingraad. Sy is hierdie jaar gekies vir die 1ste hokkiespan, waar sy ʼn medalje ontvang het as “Vrou van die wedstryd” en ook aangewys is as “speler van die jaar”. Chené was in Laerskool Villieria. Sy het daar ook aan netbal en sagtebal deelgeneem. In graad 7 is sy gekies vir die Noord-Gauteng sagtebal span en het ook ʼn toekenning as die beste netbalspeelster ontvang. Sy het ook aan Judo deelgeneem in graad 1 en 2 en het verskeie medaljes gewen. Chené se droom is om haarself as veearts te bekwaam en op sportgebied ook aan te hou met sagtebal en weer aan judo deel te neem.
Miekie, haar ma, is self ook ʼn kranige sportdeelnemer. Sy het aan die SA judo kampioenskappe deelgeneem. Alhoewel sy by die SA’s haar been erg beseer het, het dit haar nie gekeer om die beker vir haar SA span te verower nie.
|
|
Waarom is lidmaatskap van CrisisOnCall so belangrik?
Ciska de Beer vertel dat sy en twee vriendinne op 25 April op pad was na Botswana. Omtrent 20 kilometer voor Ellisras, was hulle in ‘n erge botsing met ‘n meubel-afleweringsvragmotor betrokke. Dit was so half vyf die middag. Hulle was sodanig beseer dat hulle hulself nie kon help nie en is deur omstanders uit hul voertuig gehelp. Sy was net in staat om haar mediese fondskaart aan "iemand" te gee en verder het sy gehoor dat ‘n ambulans hulle sal moet afvoer.Met ‘n halwe boodskap kon “iemand” haar dogter skakel, maar die foon het afgeskakel tydens die gesprek. Sy het geweet haar ma was in ʼn ernstige botsing, maar nie eers geweet waar dit gebeur het nie. Op daardie stadium kon hulle nêrens by ‘n hospitaal of by ambulansdienste opgespoor word nie. Ons kinders het ons baie ure later deur middel van vriende op Facebook wat in die area bly, in die hospitaal opgespoor.
So het ons daar gelê en gewag vir hulp, dit het soos ‘n leeftyd gevoel. Dit was seker teen half nege die aand wat daar ambulanse opgedaag het. “Hulle het my met moeite op ‘iets’ getel. Dit was onbeskryflik seer en ongemaklik en gevoel of dit ‘n smal harde plank of iets dergeliks was.”
By die hospitaal het ek mediese hulp ontvang en moes toe na Pretoria oorgeplaas word. Die mediese fonds het die oorplasing goedgekeur op voorwaarde dat ek deur hulle voorkeur ambulansdiens afgevoer word. “Deur-trek van pyn en nie betrokke by die reëlings nie, moes ek toe verneem dat ‘n ambulans van Polokwane moet kom. En dus moes ek wag. Wel hier het ‘n hele paar uur verloop.”
|
Vakansie eindig tragies
Die Heyns-gesin van De Wildt buite Pretoria het op 25 April 2014 met groot opgewondenheid hul vakansie see toe aangepak. Vroegoggend op Van Rheenen’s-pas het dinge egter baie skeef geloop. Hulle bakkie se agterwiel het losgeskeur en hulle was tromp-op in ʼn botsing met ʼn vragmotor betrokke. In die tragiese botsing het albei ouers sowel as hul sesjarige seun op die toneel gesterf. Hul tienjarige seun, Jeandré, het die botsing wonderbaarlik oorleef, maar is ernstig beseer. Paramedici het hom na ʼn hospitaal in Harrismith afgevoer waar aangedui is dat hy dringend by ʼn spesialishospitaal moes uitkom. CrisisOnCall se oproepsentrum het die botsing holisties bestuur nadat hulle vroeër betrokke was met reismonitering met die gesin. Aerocare is uit Bloemfontein geaktiveer om met hul lugambulans Jeandré na Pretoria te vlieg waar hy in ʼn hospitaal naby aan sy oupa en ouma opgeneem is. Dit gaan tans goed met Jeandré en het hy op 21 Julie 2014 weer vir die eerste keer skool toe gegaan. By die skool het die kinders letterlik “baklei” om sy skooltas te dra aangesien hy nog met krukke loop. Die skool het ook ʼn kruis geplant ter nagedagtenis aan sy broer Tiaan wat in die botsing gesterf het.
|
|
Vergelyking van Ciska en Jeandré se gevalle
CrisisOnCall het nie sy eie ambulansdiens nie en maak ook nie van net een diens gebruik nie. Ons beskik oor die twee groot ambulansdiensverskaffers en ongeveer tien ander as diensverskaffer. Dit stel ons in staat om vinniger te reageer met hulp. In Ciska se geval sou ons die diensverskaffer in die Waterberge (LifeMed) ingespan het. Sy sou dus baie vinniger hulp gekry het en ook baie vinniger oorgeplaas gewees het na Pretoria. Die CrisisOnCall-bandjie sou inligting verskaf het en met reismonitering sou CrisisOnCall nie net vinnig geweet het van die botsing nie, maar ons sou ook naasbestaandes op hoogte gehou het. In Jeandré se geval kon CrisisOnCall die situasie holisties bestuur en telkens van die naaste diensverskaffer gebruik maak. Die eerste diens was die ambulans van die toneel tot in Harrismith Hospitaal. Daarna van die hospitaal na die lughawe waar die lugambulans hom na Wonderboom Lughawe in Pretoria gevlieg het. ʼn Ambulans van ʼn diensverskaffer in Pretoria het hom weer afgevoer tot by Montana Hospitaal. Daar was dus vier verskillende diensverskaffers betrokke om die taak suksesvol en professioneel uit te voer. Deur lid te wees van CrisisOnCall sal ʼn noodsituasie dus baie vinnig en professioneel hanteer word. Verder is GEMOEDSRUS die fondament van lidmaatskap wat nie net die reisende lid gerus sou stel nie, maar ook die naasbestaandes.
|
|
Persoon van die maand |
|
|
|
|
Al hoe meer Super Rugby-spelers word lid van CrisisOnCall. Hierdie maand ontmoet ons Jacques Engelbrecht, ʼn boorling van Belville, wat vir die Bulls speel. Jacques het slegs sosiaal rugby op skool gespeel, siende dat hy nie die "grootste" en mees fisiese man op die veld was nie. Dit was hier waar hy die besluit geneem het om in graad 11 bietjie gewig aan te sit en krag te bou (waar hy sy bynaam "Vleis" gekry het) Na skool het Jacques klub-rugby gespeel vir Hamiltons (Kaapstad). Die oud-Springbok, Rassie Erasmus hom raakgesien en hom ‘n geleentheid gebied om sy professionele rugby debuut te maak (vir die Westelike Provinsie, in die 2007 Curriebeker). Hy het in 2009 by die SWD Arende in George aangesluit, waar hy vir twee seisoene gespeel het. Hy het ook in 2010 sy debuut vir die Blitz Bokke gemaak. Jacques het in 2010 by die Southern Kings in Port Elizabeth aangesluit. Daar het hy ook sy vrou, Anele, by die kerk ontmoet. Na twee jaar by die Southern Kings, waar hy sy Super Rugby-debuut gemaak het teen die Western Force in 2013, is hy die geleentheid gebied om ‘n drie jaar kontrak met die Vodacom Blou Bulle te kry. Hy, sy vrou en twee stout labradors geniet tans die lewe in Pretoria en sien uit na wat die toekoms inhou.
Volg hom gerus op twitter: @vleis8
Facebook fan page: Jacques Engelbrecht
|
|
Ontmoet ons diensverskaffers – ER24
ER24 is ʼn privaat nasionale nood mediese diens wat al vir meer as 14 jaar ʼn effektiewe nood mediese reaksiediens en voor-hospitaalsorg lewer. ER24 het 30 hooftakke dwarsoor die land. Hul slagspreuk is realhelprealfast. Hulle is reeds al om bekend in die groot metropoolareas en is ook een van CrisisOnCall se diensverskaffers. Hul vlootvoertuie bestaan uit 240 reaksievoertuie en ambulanse, sowel as ʼn nasionale kontaksentrum vir die bestuur van hul noodoproepe. Hulle beskik ook oor ʼn mediese lugvleuel wat helikopters en lugambulanse insluit en so geplaas is dat dit onnodige vlugtyd uitskakel. ER24 was ook betrokke by die ontwikkeling van ʼn hoë tegnologie ventilator wat op pasgebore kinders en volwassenes gebruik kan word. Hulle het dan ook op 25 Julie 2014 die eerste Hamilton T-1 ventilator in die wêreld ontvang. Hierdie toerusting word gebruik om pasiënte te help asemhaal en is ook ideaal vir die gebruik op lugambulanse
|
|
Gap Guard wenner
Die wenner van die Gap Guard uit die nuusbrief van Julie 2014 is Ina Pretorius (Lid NRV000021) baie geluk Ina. Vir meer inligting oor die Gap Guard besoek www.thegapguard.co.za
|
|
Kom ons verkeer sosiaal!
CrisisOnCall is op verskeie sosiale netwerke waar jy jou kommentaar kan lewer en inligting kan bekom.
|
|
Reismonitering is noodsaaklik op die langpad
In verskeie gevalle was CrisisOnCall besig met reismonitering wanneer daar iets met ʼn lid of sy gesin gebeur het. Behalwe vir botsings is mense al gehelp wat verdwaal het, voertuig gebreek het, langs die pad beroof is, gekaap is, ens. Annemarie Lategan skryf soos volg: “Ek wil net graag baie dankie sê vir puik reismonitering. Dis nie die eerste keer dat ek van jul diens gebruik maak nie.
Ek, my skoonma en jongste seun het op 10 Julie 2014 op reis gegaan vanaf Rust te Winter na die Noord-Kaap om by my oudste seun op Postmasburg te gaan kuier. Ons het via Bloemfontein gereis en Donderdagaand op Orania oorgeslaap. Rita het gereeld gebel en omtrent elke keer as ek nie seker was in watter rigting volgende nie, het sy my met padaanwysings gehelp! Dit was regtig gerusstellend om te weet as ek wel verdwaal, iemand my gaan help. Ons het veilig, en sonder om te verdwaal, in Orania aangekom.
Sondag het ek weer van jul diens gebruik gemaak vanaf Postmasburg terug huis toe via Kuruman. Hierdie keer het Deon ons huis toe geneem. Deon het my by ‘n vorige geleentheid ook gemonitor toe ek alleen van Piet Retief af gery het en na donker by ons donker plaashuis aangekom het. Tydens daardie geleentheid het hy my seker so 15 minute van die huis af geskakel. Ek het aangedui dat ek amper tuis is en hy hoef nie weer te skakel. In plaas daarvan, het hy my egter tien minute later geskakel en seker gemaak ek is veilig tot binne-in die huis. Hy het my attent gemaak op dinge soos of die honde reageer, gesê ek moet na sekere dinge oplet om en in die huis en toe hy seker was alles is veilig, het hy eers die oproep beëindig! Ek was só beïndruk met sy deernis. Ewenwel, hierdie keer het Deon ook gereeld gebel! Dit was ‘n lang rit en ek het by tye baie moeg geword. Deon se oproep het dan betyds gekom en ek kon bietjie met hom gesels en skerts en was ek weer wakker vir ‘n rukkie. Hy het my ook aangeraai om liewer te stop en bene te rek, al was ek haastig om voor donker by die huis te wees. So het sy laaste oproep weereens gekom nadat ek reeds tuis was en die motor amper afgepak Baie, baie, baie dankie aan Rita, Deon en CrisisOnCall vir uitmuntende diens. Dis voorwaar ‘n rariteit in vandag se lewe! Ek gaan beslis weer daarvan gebruik maak. – Annemarie Lategan (Brief verkort)
|
|