Die minister van Gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, het op 5 Desember 2017 aangekondig dat meer as 30 mense reeds gesterf het as gevolg van die onlangse uitbreking van die siekte listerellose, wat deur besmette kos oorgedra word.
Volgens die Nasionale Instituut vir Aanmeldbare Siektes (NICD) is ongeveer 557 gevalle aangemeld en die meeste daarvan is in Gauteng.
Listeria is ‘n bakterie (Listeria monocytogenes) wat in grond, water en plante voorkom. Dit kan ook in sommige diere voorkom, byvoorbeeld pluimvee en beeste. Ongepasteuriseerde melk en ander voedsel wat daarmee vervaardig word, kan ook die bakterieë bevat. Die siekte kan nie versprei word deur kontak met besmette persone nie.
Volgens Janse Rabie, hoof van Natuurlike Hulpbronne by Agri SA, wys die onlangse uitbreking van listerellose hoe uiters kwesbaar alle mense is waar dit besmetting van ons natuurlike hulpbronne, veral grond en water, betref.