“Dit voel of ons by die huis gekom het,” vertel Morné Botha, hoofbestuurder van Scania in die Vrystaat. Hy en sy gesin het teen die einde van verlede jaar van Johannesburg af Bloemfontein toe getrek waar hy die leisels oorgeneem het as hoofbestuurder van Sentraal en die Vrystaat.
“Ons kliëntebases hier is heeltemal anders, ons praat die meeste van die tyd met boere, ons tipe mense,” sê Morné. Boere en landbouvervoerondernemings kan maar weet, by Scania word daar ‛n plan vir hulle gemaak.
Die regte trok vir die regte taak
Morné sê die 13-liter G-reeks is die gewildste onder boere vir langafstand vervoer. Dit is ’n wye reeks van 250 tot 620 perdekrag (186 – 462 kW) en bied vele kombinasiekeuses aan met betrekking tot onderstelle, enjins en kajuite. Scania het ook ’n goeie verhouding met bakbouers en kan boere help om die beste sleepwa vir spesifieke vragte te kies. Die wa kan ook ingesluit word in die finansieringspakket. Een van Scania se belangrikste sakebeginsels is dat sy kliënte maksimum werkstyd moet geniet. Saam met die vertroude tegnologie loop ook betroubare dienslewering.
Dienslewering vir Afrika
In Suidelike Afrika lê plekke wyd uitmekaar, paaie is nie altyd op standaard nie en as produkte van die plaashek af vervoer moet word, moet jy seker maak jou voertuig is geskik en word gereeld nagesien. Morné sê die terugvoering wat hy van boere af kry is dat hulle ’n baie hoë premie op naverkopediens plaas en dat hulle groot waardering het vir Scania se uitgebreide diensnetwerk, wat die hele subkontinent bedien. Hy sê: “Ons aanvaar die verantwoordelikheid om seker te maak dat die vervoergedeelte van ’n boerderyonderneming so glad as moontlik verloop sodat die boer kan konsentreer op sy boerdery. ’n Boer, en ook boere wat vervoerkontrakteurs is, moet nooit nodig hê om bekommerd te wees oor hulle lorries nie!”