26 vragmotors vol voer word more (Vrydag 15 September) na boere in Vredendal in die Noord-Kaap gestuur om hulle in die droogtetyd te help.
Die vragmotors is gereël deur Caring Daisies, ‘n hulporganisasie. Caring Daisies, net soos die Boere in Nood-groep en georganiseerde landbou, is nog onverpoosd besig om boere te help. Verlede jaar is boere in die Vrystaat en Wesstreek gehelp en hierdie jaar help hulle weer medeboere in die Kaap.
Die situasie in die Karoo lyk veral sleg. Boere sukkel om hulle diere te voer en baie vee moes al doodgemaak word. Die lente het nou begin en daarom kan warmer temperature verwag word in daardie gebiede.
“Ek dink die boere lê ons almal na aan die hart. Hulle is uitgelewer aan die natuur en het nie werklik beheer nie. Ek en jy kan harder werk, meer ure insit en nog kliënte soek, maar hulle is totaal afhanklik. Ek dink dit is die rede hoekom ons altyd sal probeer help indien dit vir ons moontlik is. Ons fondse is egter baie beperk en ons is totaal afhanklik van skenkings,” sê Anria van Heerden van Caring Daisies.
“Vibro Bricks verskaf 26 trokke gratis en Dawid van Aswegen van Texan Petroleum het die diesel vir ons geborg. Ons en Jakaranda FM se Good Morning Angels Fund dek die verskil en ons het ook intussen ‘n skenking van R35 000 van die Round Table gekry en KPMG het vanoggend ‘n bykomende bedrag van R40 000 inbetaal. Indien daar nog fondse beskikbaar is, gaan ons nog trokke na die onderskeie droogte geteisterde gebiede stuur,” sê Anria.