Grondaankope om ’n radiostil omgewing vir die SKA-radioteleskoop buite Carnarvon te verseker, gaan nié 130 000 ha oorskry nie, maar meer serwitute op die huidige drie “spirale” uit die SKA-kern gaan nodig wees.
“Die antwoord is dat dit werklik by 130 000 (hektaar) ophou,” het dr. Rob Adam, projekdirekteur van SKA Suid-Afrika, gesê op ’n vergadering wat Agri Kareeberg op Carnarvon gereël het. “Daar sal wel nog serwitute wees, met ander woorde daar sal meer antennas in die spirale opgerig word vir die volgende fase.
“Al die grond wat ons in die kern nodig het vir die SKA se fase 2 is deel van hierdie 130 000 hektaar,” het hy in Engels gesê. Mnr. Willem Esterhuyse, projekbestuurder van die MeerKAT-projek wat nou opgerig word, het vertaal en gesê die plase wat hulle nou koop, is die plase wat hulle gaan koop. “Omdat daar in die spiraalarms nog skottels opgesit gaan word, sal ons nog serwitute registreer, maar ons gaan nie nog plase koop nie.”
Mnr. Dries Wiese, wat by Loxton boer, het Adam gevra hoeveel fases daar ná fase 2 gaan wees, maar Adam het gesê die projek het “net twee fases”. “Fase 2 gaan op in ander dele van Afrika, soos Namibië en Botswana. Ons het genoeg grond vir alle planne van die SKA. Ons het wel nog serwitute nodig.”
Die meer as 90 boere, SKA-amptenare en joernaliste het gelag toe Wiese gesê het: “Kan ek dan vra hoekom julle nie sommer die hele besigheid Botswana toe skuif nie?”
Fase 2 nog duister
Daar was groot frustrasie toe Adam gesê het hulle het nog nie die besonderhede van die ontwerp vir fase 2 nie, maar dat die spirale verminder is van vyf tot drie omdat sensitiewer instrumente ontwikkel is en om koste te bespaar. Die spirale gaan egter digter gepak wees met skottels.
Mnr. Deon Oberholzer, een van die boere wat ’n deel van sy grond moet verkoop, het gesê hy kan dit nie “in sy hart glo” dat die SKA ’n wêreldprojek gaan oprig sonder dat hy weet hoe die tweede fase gaan lyk nie. Wiese het later gesê die vergadering is besig om die SKA ’n blanko tjek te gee. “Ons kan mos nie vergadering hou met mense wat nie weet wat hulle gaan doen nie.”