Dit is só dat die jaarlikse nasionale begrotingsrede ‘n geleentheid in Suid-Afrika is waarvoor almal wag. Tesame met die positiewe veranderinge wat tans plaasvind in die politieke landskap, word daar verwag dat die Februarie 2018-begrotingsrede beslis aandag sal geniet – nie net van die besigheidsektor en individue binne Suid-Afrika nie maar ook buite die land.
Graderingsagentskappe sal fyn luister na die begrotingsrede. Volgens Agri SA se president, Dan Kriek, bestaan daar ‘n risiko dat Suid-Afrika verdere kredietafgraderings in die gesig kan staar indien die begrotingsrede nie die graderingsagentskappe gerusstel nie; daarom sal die begroting hierdie agentskappe tevrede moet stel dat Suid-Afrika verbind is tot handhawing van die geloofwaardigheid van sy fiskale raamwerk en bestedingsplafon.
Volgens die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) van Oktober verlede jaar, sou Suid-Afrika belastinginkomstetekorte van ongeveer R50,8-miljard vir 2017 en R69,3-miljard in 2018 aanteken. Teen 2020/21 sal ongeveer 15% van die staat se inkomste bestee word om skuld af te betaal. Die land se begrotingstekort word gestel op 61% van die bruto binnelandse produk (BBP) teen 2020/21.