Tydens ‘n geleentheid wat vandag deur die Nasionale Persklub in Pretoria gereël is, het Agri SA sy posisie ten opsigte van hidrouliese breking vir skaliegas-ontginning in die Karoo en elders in Suid-Afrika herbevestig.
In sy sterkste uitspraak, oor die onderwerp tot dusvêr, het die President van Agri SA, Johannes Möller, gesê dat gegewe die oorblywende onsekerhede oor watervoorsiening en besoedelingsaangeleenthede wat verband hou met skaliegas-ontwikkeling deur middel van onkonvensionele eksplorasie- en produksietegnieke in die vorm van hidrouliese breking, Agri SA nie tans die regering se voortgesette pogings in hierdie verband kan ondersteun nie.
Mnr Möller het beklemtoon dat Agri SA nietemin verbind bly tot steun aan die regering om ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika te verseker.
Agri SA se provinsiale affiliasie in KwaZulu-Natal het onlangs interdikte in Pretoria se Hooggeregshof verkry om die Petroleumvereniging van Suid-Afrika (PASA) te verbied om die onderskeie aansoeke vir ‘n eksplorasiereg en ‘n tegniese permit aan Rhino Oil and Gas Exploration South Africa (Pty) Ltd toe te staan. Die betrokke gebied beslaan in totaal 1,6 miljoen hektaar en 15 000 plase in daardie provinsie.