Die gemeenskap van Aggeneys in die Khai Ma-munisipaliteit van die Namakwa-distrik van die Noord-Kaap is gereed vir die besoek van adj.-pres. David Mabuza aan die droogtegeteisterde gebied.
Hy sal ook ’n afvaardiging van die gebied se georganiseerde landbou te woord staan oor die beslissing van moontlike ramphulp aan die provinsie wat sedert Augustus as ’n rampgebied verklaar is.
Die besoek is ’n uitvloeisel van Mabuza se onderneming in die parlement van die regering se voorgenome samewerking met die onderskeie groeperinge binne die georganiseerde landbou om die voortdurende uitdagings ten opsigte van die droogte in die Noord-Kaap, Vrystaat en die Noordwes-provinsie die hoof te bied.
Die Noord-Kaap se distrikte loop die ergste onder die rampdroogte deur met inbegrip van bykans 15 500 plaaseenhede met ’n drakrag van 613 447 grootvee-eenhede (GVE) oor ’n gebied van meer as 20 miljoen hektaar. Volgens beramings kan die rampdroogte se uitwerking na sowat 1 miljoen GVE uitbrei indien bogemiddelde reënval nie gedurende die somerreëntyd in die Noord-Kaap voorkom nie. Na verwagting sal Mabuza se boesoek aan die provinsie die beskikbaarstelling van ramphulp aan boere bespoedig.
Die afvaardiging van Agri Noord-Kaap wat vir die aankoms van adj.-pres. David Mabuza op sy besoek aan Aggenys gereed staan, is van links mnre. Willem Symington , Johan van der Colff (voorsitter van die provinsiale Rooivleisprodusente-organisasie), Henning Myburgh (hoofbestuurder), Nicol Jansen (voorsitter) en Danie Jacobs (Agri Namakwaland). Foto: Agri Noord-Kaap