Agri Noord Kaap - Pluimveebedryf trek baie swaar

Hoenders.
Foto: www.en.wikipedia.org

Astral moet produksie afskaal en sommige onafhanklike pluimveeprodusente is in erge finansiële nood.

Plaaslike hoenderprodusente is onder groot druk weens duur voer, groot hoeveelhede ingevoerde hoender, en die druk waaronder verbruikers is. Die genoteerde pluimveeprodusent Astral sê in ʼn verklaring op Sens, die Johannesburgse Effektebeurs se nuusdiens, dat hy produksie gaan moet afskaal.

Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof, sê die invloed van die drie bogenoemde faktore was in Astral se derde kwartaal, wat op 30 Junie geëindig het, erger as wat vroeër verwag is. Voerkoste sal na verwagting bly styg totdat verwagtinge vir ʼn beter mielie-oes in die 2016/’17-plantseisoen ʼn werklikheid word.

Die Astral-groep het ʼn invoerprogram vir mielies om die risiko van tekorte te versag en ook as teenwig teen die voortdurende prysstyging in die plaaslike mielieprys. Schutte sê die bedryf beleef verder rekordvlakke van hoenderinvoer, terwyl daar reeds ʼn ooraanbod in die land is.

Dit, tesame met ʼn verbruikersmark wat onder druk is, druk verkoopspryse afwaarts. Dit dwing die groep om verder in sy produksieketting terug te sny, sodat voorraad op bestuurbare vlakke kan wees en die situasie van ʼn ooraanbod só kan aandag kry. “Die uitwerking van die beplande produksie-inkorting sal ongelukkig ʼn nadelige invloed op die werkmag hê, omdat hulle minder ure sal werk.”

Schutte sê daar is middelgrootte tot groot onafhanklike pluimveeprodusente wat in erge finansiële nood is en besig is om toe te maak, of in sakeredding geplaas te word. As daar nie verligting rakende een van die sleutelbydraers tot die situasie kom nie, sal Astral verdere afskaling van produksie moet oorweeg, sê hy.

Agri Northern Cape

Share This