+ 27 53 832 9595
Agri Noord Kaap - Zim sal invoer wat hy nie produseer

Zimbabwe.
Foto: www.en.africatime.com

Zimbabwe sal permitte uitreik vir die invoer van produkte wat nie in dié land self vervaardig word nie.

Suid-Afrikaanse ondernemings wat produkte na Zimbabwe uitvoer, moet druk op die Departement van Handel en Nywerheid plaas sodat daar oplossings gevind kan word vir die buurland se handelsversperrings.

Só sê mnr. Taapano Paradza, ʼn konsultant by XA International Trade Advisors. Hy sê druk is belangrik, anders gaan Zimbabwe net meer en meer versperrings daar stel. Sedert 17 Junie word lisensies vereis om ʼn lang lys produkte in Zimbabwe te kan invoer, terwyl permitte reeds ʼn geruime tyd vir sekere landbouprodukte vereis word.

Die voedselprodukte wat geraak word, sluit ingemaakte groente en sousboontjies in.

Lisensies
Invoerders in Zimbabwe moet by hul ministerie van handel en nywerheid vir dié lisensies aansoek doen. Van die dokumente wat vereis word is belastingklaringsertifikate, ’nbewys van registrasie van die onderneming, en ʼn motivering waarom dit nodig is om die produk te kan invoer. ʼn Aansoek kos $30 (sowat R428).

“Produkte waarvan daar nie voldoende produksie in Zimbabwe is om in die vraag te voorsien nie, het ʼn goeie kans om ʼn lisensie te kry,” sê Paradza. “Daar is egter byvoorbeeld baie produsente van mineraalwater in Zimbabwe, wat in die vraag daarna kan voorsien. Dit is onwaarskynlik dat ʼn lisensie toegestaan sal word om mineraalwater in te voer.”

Smouse
Paradza sê informele handelaars gaan moeilik vir lisensies kan aansoek doen, omdat hulle meestal nie geregistreerde ondernemings het nie en natuurlik nie belastingklaringsertifikate nie.

Die lisensievereistes gaan hulle dus swaar raak, en daarom na verwagting ook ondernemings in Musina waar hulle hul ware koop.

Permitte
Paradza sê Zimbabwe vereis al ʼn tyd lank invoerpermitte vir sekere landbouprodukte, waarvoor invoerders by die ministerie van landbou aansoek doen. Vir produkte soos kookolie, hoender en alle ander vleisprodukte word permitte nie toegestaan nie, omdat dit ook plaaslik in Zimbabwe geproduseer word.

Wetsgehoorsaam
Paradza se raad aan uitvoerders is om wette na te kom om probleme te voorkom. Hy sê middel-Julie is twee vragte met uie, aartappels en peper by die grens vernietig omdat die invoerder probeer het om dit sonder ʼn permit in te voer.

Lisensievereistes ‘verras’ SA
Dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, het op ʼn mediakonferensie waar die departement se nuwe eenheid vir die bevordering van handel en belegging in Afrika bekend gestel is, gesê Zimbabwe se lisensievereistes het Suid-Afrika verras.

Die twee lande was reeds in gesprek weens ʼn vroeëre vereiste vir die betaal van bybelasting op sowat 1 000 produktarieflyne, wat al verminder is, maar gesprekke was nog aan die gang.

Davies het gesê hy het ʼn vergadering met sy Zimbabwiese eweknie aangevra. Hy het bygevoeg ʼn verstandhouding kan bereik word waar Suid-Afrikaanse produkte Zimbabwe se eie produksievermoëns in gevaar stel, maar dat Suid-Afrika op sy regte kragtens reëls van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap gaan aandring as hy sien produkte word uit ander lande ingevoer.

Navrae: Kontak Paradza by tel. (012) 665 1271 of e-pos: taapano@xa.co.za.

Agri Northern Cape

Share This