+ 27 53 832 9595
Agri Noord Kaap - Wit mielies al hoe skaarser

Mielies word geoes.
Foto: Charl van Rooyen

Dit is onseker of Suid-Afrika in die volgende maande genoeg wit mielies sal kan invoer om in die nasionale vraag te voorsien.

Volgens die jongste amptelike statistieke tot middel Julie is in byna ’n derde van die bemarkingsjaar (sedert begin Mei) altesaam 93 990 ton wit mielies uit Amerika en Mexiko ingevoer. Dit is minder as ’n tiende van die beraamde 1,1 miljoen ton invoermielies wat nodig is om in Suid-Afrika se behoeftes te voorsien.

Intussen waarsku mnr. Wandile Sihlobo van die landbousakekamer Agbiz ’n tekort aan wit mielies heers nou op die internasionale mark. Vroeër is berig dat Amerika nie meer wit mielies vir uitvoer beskikbaar het nie.

Die produsente-organisasie Graan SA beraam dat Suid-Afrika se verbruik van wit mielies in die huidige bemarkingsjaar, tot einde April 2017, sowat 4,3 miljoen ton behoort te beloop.

SA voer steeds wit mielies uit
Die verwagte plaaslike witmielie-oes is net 3,097 miljoen ton. Suid-Afrika voer ook steeds mielies na buurlande uit. Teen middel Julie het die totale uitvoersyfer op 13 264 ton gestaan, waarvan 62% wit mielies was en die res geel.

Lesotho het die meeste wit mielies ingevoer, gevolg deur Botswana, Namibië, Zimbabwe en Swaziland.

Sihlobo sê omdat Suid-Afrika vanjaar ’n netto invoerder van grane en oliesade gaan wees, behoort die plaaslike pryse van nou af die toonaangewende Chicago-beurs se markbewegings na te volg.

Wisselkoers
Daarby het die wisselkoers-bewegings van die rand teenoor die Amerikaanse dollar ook ’n groot invloed op die plaaslike mark. Dit behoort tot Oktober vanjaar die hoof-aandrywer op die plaaslike mark te bly, ten minste tot die Suid-Afrikaanse planttyd begin, sê hy.

Plaaslike sojaboonpryse is besonder wisselvallig weens wisselvalligheid op internasionale markte, en parsmarges is steeds onder druk.

Agri Northern Cape

Share This