+ 27 53 832 9595
Agri Noord Kaap - Winterreën bring hoop, voerkrisis dreig

Boere in die winterreën gebied, wat graan met min reën in April en Mei geplant het, is verlig oor die reën wat op 9 en 10 Junie geval het.
Foto: Amelia Genis

Boere in die winterreëngebied is verlig oor die reën van 9 en 10 Junie, maar bekommerd oor ’n dreigende voertekort.

Boere in die winterreëngebied, wat graan met min reën in April en Mei geplant het, is verlig oor die reën wat op 9 en 10 Junie geval het, maar daar heers kommer oor ’n voertekort.

Mnr. Anton Mouton van die plaas Piekenierskloof, Eendekuil, het Maandag gesê hulle het net 7 tot 10 mm reën gekry, en dit is gevolg deur sterk en uitdrogende oostewinde Saterdag­ én Sondagnag. Gelukkig wys die weerwebwerwe dat hulle die week nog reën te wagte kan wees.

Mouton sê met die voergeëry “lol dit maar” om skape op kondisie te hou. Die R25 000 se mielies wat hulle onlangs gekoop het, hou hulle net 10 dae, en daar is kommer dat lusernproduksie afneem noudat dit kouer word. “As ons hierdie week ’n outydse duim (25 mm) reën kan kry, behoort ons oor vier tot ses weke weiding te hê.”

Sake lyk aansienlik beter nadat hy 25 mm reën op sy grond by Porterville gekry het, sê mnr. Gawie Carstens van die plaas Pampoenkraal. “Die graan begin nou mooi opkom.” Die reën is die eerste sedert die 18 mm wat hulle oor Paasnaweek gekry het, en 7 mm middel­Mei. Sy grond in die Rooi­Karoo het 17 mm gekry, terwyl die grond wat hy tussen Piketberg en Porterville huur, 19 tot 23 mm gekry het.

Die hawerweiding op sy plaas het tot dusver genoeg groenvoer vir sy skape en beeste verskaf, saam met lusernhooi, mielies en die sifsels van verlede jaar se graanoes. Nadat die eerste deel van die jaar “geweldig droog” was, beskou mnr. Wikus Bester van die plaas Uitsig, Napier, die 20 mm reën wat hulle verlede week gekry het, as ’n goeie begin. “Dit het lekker sag gereën.”

Sy graanboerdery lyk belowend na die reën, maar hy is bekommerd dat daar nog “niks kos op die lande is” nie, en hoe duur voer is. Die vorige keer wat hy mielies gekoop het, was die prys R3 600/t en deur bloot ’n onderhoudsrantsoen van 200 g per skaap per dag te gee, gebruik hy omtrent ’n ton mielies per dag.

Mei ‘toehand’ met reën
Mnr. Janneman Fourie van die plaas Mierkraal, tussen Caledon en Riviersonderend, is baie bly oor die 22 mm wat hy daar gekry het, en die 25 mm op sy huurplaas. “Mei was so droog dat ons die reën in halwe millimeters begin meet het. Die 3 mm wat ons gekry het, het darem die stof laat lê.”

Planttyd was taamlik droog nadat hulle 10 tot 15 mm met Paasnaweek gekry het. Al was Mei “soos gewoonlik toehand” met reën, was landboutoestande op die Heidelbergvlakte tot dusver nie sleg nie, sê mnr. Michel Gildenhuys van die plaas Môrelig, Heidelberg. Hulle het immers meer as 200 mm reën in die eerste drie maande van die jaar gekry en kon ver kom op die vog in die grond. Hulle het laat in Mei 10 mm reën gehad en verlede week 12 mm. ­

Agri Northern Cape

Share This