Tafeldruiwe was die afgelope seisoen winsgewend te midde van ’n swak oes.
Tafeldruifboere kon die afgelope seisoen nie hulle 2014/’15-seisoen se rekord van 59,4 miljoen 4.5kg-kartonhouers verbeter nie. Die droogte en baie warm weer het die oes afgedwing tot by 57.95 miljoen kartonne aan die einde van April vanjaar, volgens mnr. Joseph Lombardt van Tafeldruifprodusentevereniging (SATI).
Van die 2015/’16 oes is 97.7% uitgevoer, wat gesorg het dat die tafeldruifboere, ongeag die laer oes, steeds ’n toename in plaashek-verdienste kon aanteken. “ ’n Tekort aan voorsiening op die internasionale markte het die prys van tafeldruiwe opwaarts gestoot, wat gelei het tot beter verdienste vir ons boere. Dit kon nie op ’n beter tyd gekom het nie, want baie van ons boere moet tans verouderde kultivars en ou wingerde vervang en boonop het insetkoste astronomies toegeneem oor die afgelope paar seisoene,” verduidelik Lombardt.
Volgens SATI se opnames, het uitvoere die afgelope seisoen na die Verenigde Koninkryk met bykans 14% toegeneem teenoor die 2014/’15-seisoen en ’n totaal van 15 738 916 4.5kg-kartonne is daarheen uitgevoer. Die grootste aankoper van ons tafeldruiwe, die Europese Unie (EU), het egter minder druiwe die afgelope jaar ingevoer as in 2014/’15. Vanjaar is slegs 30 559 787 kartonne na die EU uitgevoer in vergelyking met die 33 865 721 kartonne wat in 2014/’15 daarheen uitgevoer is. ’n Totaal van 56 659 880 kartonne is uitgevoer die afgelope seisoen.
Plaaslike verbruik van tafeldruiwe die afgelope seisoen het op bykans verdubbel teenoor 2014/’15. In 2014/’15 is net meer as 800 000 kartonne op die plaaslike mark verhandel terwyl bykans 1.3 miljoen kartonne die afgelope seisoen op die plaaslike mark kopers gevind het.