Die nasionale RPO vooroordeel die twee insidente van onwettige smokkelpogings van swartwitpense vanaf Zimbabwe en Zambië in die afgelope drie weke ten sterkste.

Nie net is sulke wettelose optredes heeltemal onaanvaarbaar nie, dit hou ook ‘n groot risiko vir die plaaslike rooivleisbedryf in vanweë die gevaar dat Bek-en klouseer die land ingebring kan word. Sulke roekelose en selfsugtige optrede bring die dieregesondheidstatus van die nasionale lewendehawe- en wildbedrywe in ernstige gedrang. ‘n Bek-en-klouseer uitbreking sal katastrofiese gevolge vir die Suid-Afrikaanse landbou tot gevolg hê.

Suid-Afrika word sedert Februarie 2014 as ‘n Bek-en-klouseer vrye sone erken. Dit is krities noodsaaklik dat dié status ten alle koste beskerm sal word aangesien die plaaslike landboubedryf R4 biljoen verlies gely het tydens die verlies van die status.

Die uitvoer van rooivleisprodukte, genetiese materiaal, suiwelprodukte, wildprodukte en veselprodukte is sedert die status in plek is, besig om toe te neem en dit lewer ‘n wesenlike bydra om produsentepryse te ondersteun en buitelandse valuta te verdien.

Die RPO het met groot kommer kennis geneem van onlangse uitbrekings van Bek en-klouseer in Zimbabwe, Mosambiek en Namibië. Zambië is Bek-en-klouseer endemies. Die smokkel van wild en lewendehawe hou dus ernstige risiko’s in.

Die RPO is in gesprek met die georganiseerde wildbedryf, nasionale Dieregesondheisdforum rolspelers en staatsdepartemente om alles moontlik te doen om verdere insidente te voorkom. Die organisasie doen ‘n beroep op die
boeregemeenskap om enige verdagte insidente aan die nasionale RPO te rapporteer.

Share This