+ 27 53 832 9595
Agri Noord Kaap - Sigoreiboere dringend benodig

Geroosterde sigorei.
Foto:Theunis Botha

Geroosterde sigorei is nou in groot aanvraag in die voedselbedryf.

Boere wat voorheen sigorei verbou het, moet dit dalk weer oorweeg. Met die groot aanvraag na hierdie gewas kan boere ’n wins maak wat goed vergelyk met ander kontantgewasse. Hoewel die produksie van sigorei skerp getuimel het, is daar steeds ’n goeie vraag na die produk. Sigorei SA is daarom dringend op soek na meer boere om hierdie gewas te verbou.

Boere kan van ’n premieprys verseker wees, sê mnr. Loddie Greyling, verteenwoordiger van die Sigorei-produsentevereniging op Alexandria in die Oos-Kaap. Produksie was in 2001 nog 62 000 ton (nat wortel), maar die streng arbeidswetgewing, goedkoop invoer van Indië af en alternatiewe gewasse wat winsgewender was, het daartoe gelei dat al hoe meer kleiner produsente die bedryf verlaat het. Gevolglik het produksie tot minder as 10 000 ton gekrimp.

Arbeidsintensief
Greyling erken dit gaan moeilik wees om nuwe toetreders te lok met ’n arbeidsintensiewe gewas, soos sigorei. Daarom vestig hy sy hoop op boere wat ervaring in die verbouing daarvan het en reeds die nodige werktuie het.

“Ons bedryf het sy groot knou in 2013 gekry toe in die eerste ses maande nie ’n enkele sak sigorei verkoop is nie. Ons grootste kopers, Nestlé en National Brand, het hulle tot Indië gewend toe die rand nog taamlik sterk was. “Maar toe kom die keerpunt. Teen einde 2013 het die rand begin verswak en teen 2014 het die kopers met die hoed in die hand vir plaaslike voorraad gepleit. Sigorei SA moes skielik uithaal en wys – die opgehoopte voorraad is binne ’n seisoen uitverkoop.”

Greyling sê sowat 20 000 ton wortel moet gelewer word om in die plaaslike vraag te voorsien. Die prys is van R1 400 per ton (nat) hierdie seisoen tot R1 800 per ton vir die komende seisoen verhoog. Met ’n opbrengs van 45 ton wortel per hektaar onder besproeiing beteken dit ’n boer kan R50 000 per hektaar in sy sak steek nadat die produksiekoste verhaal is. Dit vergelyk goed met ander kontantgewasse.

Boere wat belang stel om die gewas te verbou, moet Sigorei SA spoedig kontak omdat die planttyd teen einde Augustus begin.

Navrae: Mnr. Loddie Greyling, sel 082 651 0045; e-pos: loddie@chicory.co.za.

Agri Northern Cape

Share This