Die lys van diere wat deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se Diereverbeteringswet (No. 62 van 1998) gereguleer word, is met 12 soorte wild uitgebrei. Dié wysiging laat die kruisteling en genetiese manipulasie van wild toe.
Die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) spreek sy kommer oor die kwessie in ’n mediaverklaring uit. Die organisasie sê die wysiging plaas diere soos die swart en blou wildebeeste, duikers, bontebokke, gemsbokke, rooibokke, rooi hartbeeste, bastergemsbokke, springbokke en tsessebes onder meer onder bedreiging van genetiese besoedeling en manipulasie.
Sommige van die diere is ook bedreigde spesies en teelpraktyke soos genetiese manipulasie en kruisteling van wild is teenstrydig met bestaande beleid rondom biodiversiteit en natuurbewaring, sê me. Lizanne Nel, bewaringsbestuurder by SA Jagters.
SA Jagters sê die department het die wysiging op 10 Junie gepubliseer, sonder enige raadpleging met rolspelers in die bedryf soos vereis deur die wet. Die Departement van Omgewingsake was ook luidens die verklaring onbewus van die byvoeging van wild saam met lewende hawe vir die doel om nuwe rasse deur middel van genetiese manipulasie te skep.
SA Jagters wag nog op terugvoer van beide regeringsdepartemente oor die kwessie.