+ 27 53 832 9595
Agri Noord Kaap - Plaasbesoeke deel van Vleisbeesskool

Vleisbeeste. Ter illustrasie
Foto: Andries Gouws

Plaasbesoeke aan twee van Suid­-Afrika se voorste veeboere word vanjaar ingesluit by die Aldam-vleisbeesskool.

Vanjaar se Aldam-vleisbeesskool word van 12 tot 14 Oktober deur die Lewendehawe Registrerende Owerheid (LRF) en Landbouweekblad by Ventersburg in die Vrystaat gehou. Plaasbesoeke by die neefs mnre. Llewellyn en Brian Angus, wat albei by Arlington boer, word vanjaar ingesluit.

Llewellyn Angus, Suider­Afrikaanse stoetteler van die jaar in 2004 en ’n vorige Vrystaatse boer van die jaar , boer met Simmentalers, Simbras, Merino’s en wild en is veral bekend vir sy werk met aangeplante weidings en weidingsbestuur. Hy was eers ’n saaiboer, maar het mettertyd ál sy lande onder weidings gevestig.

Dr. Michael Bradfield, organiseerder van die vleisbeesskool, sê prof. Chris Dannhauser, ’n weidingskonsultant, gaan op pad na sy plaas ’n lesing op die bus gee, asook ’n lesing in die kampe. Llewellyn sal self sy kennis met die boere deel.

Daarna gaan die besoekers na Brian Angus se nabygeleë plaas. Hy was in 2003 die eersteLandbouweekblad/Breedplan-stoetteler van die jaar. Hy het baanbrekerswerk gedoen met vleisgehalte en die verskaffing van ’n aanvaarbare produk aan die verbruiker. Hy was ook baie sterk betrokke by die ontwikkeling van die eerste handelsmerk vir Angusvleis in Suid­-Afrika.

Hy fokus nou op die Wagyu­vleisbeesras en het ’n abattoir op die plaas om sodoende hoë waardesnitte aan nismarkte te voorsien. Kommersiële en stoetboere sal nie sómmer weer so ’n gulde geleentheid kry om eerstehands na hom op die plaas te luister nie.

Weens die droogte en moeilike ekonomiese klimaat word die kongresgeld nie vanjaar verhoog nie. Dit kos R6 700 per deelnemer, wat drie nagte se verblyf, alle etes, lesings en uitstappies na die boere insluit. Die inskrywingsvorm is op www.stockmanschool.co.za.

Navrae: Me. Charmaine Alberts, tel. 051 821 1783 of e­pos: palberts@telkomsa.net.

Agri Northern Cape

Share This