Nadat lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende polisiekommissaris, onlangs amptelik bevestig het dat plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad verklaar word, lyk dit of die fokus opnuut op misdaad in landelike gebiede geplaas word.
Behalwe vir ’n werksessie tussen die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye en ander belanghebbendes binnekort hieroor, het Agri SA die internasionale boerdery-gemeenskap oor die erns daarvan ingelig en op streeksvlak het Vrystaat Landbou en die Polisie ’n gesamentlike misdaad-operasie uitgevoer.
’n Werksessie van die ministerie van landbou sou ’n week gelede met belanghebbendes gehou word oor onder meer plaasmoordstatistiek, die aantal suksesvolle vervolgings en beplanning vorentoe. Dit is uitgestel tot later vandeesmaand.
Mnr. Kobus Visser, direkteur van owerheidsdienste by Agri SA, sê georganiseerde landbou was sedert verlede jaar saam met die Polisie betrokke by die ontwikkeling van aksieplanne vir staandaardprosedures in landelike gebiede. “Dit is nou in ’n stadium van goedkeuring deur die Polisie en dan moet dit in werking gestel word. Ons het op nasionale vlak ’n goeie werksverhouding met die Polisie. Hulle betrek ons by beleid en beplanning en ons aanbevelings word in ag geneem.”
Hy sê die rol wat die Agri Securitas-trustfonds speel om hulpbronne vir misdaadbestryding te verskaf, verdien ook groter erkenning. Die trustfonds was al by meer as 100 veiligheidsprojekte in landelike gebiede betrokke.
Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur, wat onlangs die internasionale landbougemeenskap oor plaasaanvalle in Suid-Afrika ingelig het, het ook na Agri Securitas se rol verwys. Hy het by die wêreldorganisasie vir boere (WFO) se kongres in Zambië daarop gewys dat Agri Securitas in 17 jaar al R6 miljoen vir veiligheidprojekte ingesamel het.
Van Zyl het gesê oor die afgelope 15 jaar was daar meer as 8 065 plaasaanvalle waarin meer as 924 mense op plase vermoor is. “Dit is onaanvaarbare statistiek vir enige plek ter wêreld. Die situasie het uiterste afmetings aangeneem. Wat veral kommer wek is die grusaamheid van plaasmoorde.”
Hy sê boere gaan ook gebuk onder ander vorme van misdaad soos diefstal, inbrake, aanranding en veediefstal. Sowat 55 000 stuks grootvee en 85 000 skape word jaarliks gesteel en verlede jaar was die skade meer as R450 miljoen.
Genl.maj. Chris van Zyl, adjunk-hoofbestuurder van die TLU SA, sê daar is min fout te vind met die Polisie se strategieë teen landelike misdaad. “Die probleem lê daarby om op grondvlak voorkeuraandag daaraan te gee, as daar nie die nodige mannekrag en hulpmiddele is nie. Saam met plaasmoorde is daar minstens tien ander prioriteitsmisdade en dit is ’n ope vraag of daar aan alles aandag geskenk kan word.”
Hy stem nie saam met die Polisie se syfers dat plaasmoorde daal nie. Volgens sy syfers het plaasmoorde van 2011 af konstant gestyg van 48 af tot 64. Die Polisie sê dit het in vyf jaar afgeneem van 80 tot 49.