+ 27 53 832 9595
Agri Noord Kaap - Ogiesdraad verkoop soos soetkoek

Ogiesdraad
Foto:OLX

Die vraag na ogiesdraad het die aanbod ver oorskry toe dié rolle heiningdraad teen ʼn spesiale prys te koop was.

Sedert ’n aankondiging vroeër vanjaar dat verskeie landboumaatskappye ogiesdraad teen afslagpryse gaan verkoop ter ondersteuning van boere se stryd om probleemdiere te bekamp, het dit soos soetkoek verkoop.

By BKB, wat aanvanklik 6 000 rolle (1,2 m x 90 mm x 50 m) teen R564,24 per rol (BTW ingesluit) beskikbaar gestel het, het die aanvraag die aanbod drie keer oorskry. Die maatskappy het binne enkele weke bestellings vir 18 000 rolle ontvang.

Altesame 5 000 rolle is reeds aan boere gelewer en die res sal oor die volgende drie maande ook teen die spesiale prys afgelewer word, sê mnr. Ronnie Smith, BKB se bedryfsdirekteur.

Mnr. Johan du Plessis, hoofbestuurder vir handel by Die Koöperasie op Humansdorp, sê bestellings vir meer as 10 000 rolle is voor die sperdatum van 30 April ontvang.

Dié onderneming was die eerste wat aan die Roofdierbestuursforum se versoek oor goedkoper draad voldoen het.

Agri Northern Cape

Share This