Agri Noord Kaap - Maluti-veiling spog met rekord van R16m.‘n Rekordomset van R16 767 000 is op die 33ste Maluti-veiling van aanteel-en-slagvee behaal.

Die veiling is op die plaas Stephanium naby Clarens gehou en die aanbod van 2 727 beeste en 50 skape is uitverkoop. Die grootste verkoper was mnre. Daan en Dirk Viljoen van Clarens.

Telers wat hul diere op die Maluti-veiling aanbied, voorsien reeds die afgelope 18 jaar in hul verbruikers se behoeftes. Alle diere wat aangebied word, is onthoring om beserings en kneusings te voorkom.

Die gebruik van groeistimulante en die voer van diereprodukt,e soos hoendermis, word nie toegelaat nie. Koeie en verse wat dragtig is, word deur ‘n veearts gesertifiseer en moet ten minste vier maande dragtig wees.

Die verkopers is almal daartoe verbind om diere aan te bied wat vry van enige siekte en sonder gebreke is. Alle speenkalwers is voor die veiling deur dr. Johan Basson ingespuit om die aanpassing in voerkrale makliker te maak en sodoende longontsteking in kalwers te voorkom.  Die telers doen alles binne hul vermoë om voedselveiligheid te verseker. Die vleis van diere wat op die Malutiveiling aangebied word, is dus veilig vir menslike gebruik.

Vleissentraal Bethlehem het die veiling aangebied en mnr. André Pieterse, besturende direkteur, het as afslaer opgetree.

Agri Northern Cape

Share This