+ 27 53 832 9595
Agri Noord Kaap - Leeutelers kom tot maer leeus se redding

Mnr. Walter Slippers met die vleis Foto: Verskaf

Leeutelers het tonne vleis aangery na ‘n plaas waar 250 leeus aan die kort ent getrek het nadat die eienaar ‘n hartaanval en beroerte gehad het.

Lede van die SA Roofdiervereniging (SAPA) het hulle na Alldays gehaas om in te gryp op ‘n private plaas waar sowat 250 leeus nou al vir vier maande nie na behore versorg en gevoer word nie.

“Ek was daar en het die geriewe en die diere behoorlik deurgekyk,” sê mnr. Pat Loots van SAPA. “Hoewel dinge nie so erg lyk as wat dit in die media voorgehou is nie, was die leeus nogal maer en ‘n mens kan sien dat hulle nie genoeg kos kry nie.”

SAPA het reeds agt ton hoendervleis daar afgelaai en sal binne die volgende week nog ses tot agt ton vleis soontoe neem om die leeus te voer. “Ons eerste taak is om die leeus weer gesond te kry, daarna sal ons saam met die eienaar, mnr. Walter Slippers, werk om ‘n permanente oplossing vir sy probleem met vleis vir sy leeus te kry,” sê Loots.

Hartaanval en beroerte
Hy sê dat die leeus slagoffers is van ‘n sameloop van omstandighede. Slippers het vier maande gelede ‘n hartaanval gehad en kort daarna ‘n ligte beroerte. Hy was nie ‘n lid van Wildbedryf SA of SAPA nie en het nie ‘n ondersteuningsnetwerk gehad om hom by te staan nie.

“Walter het nou besef dat hy nie alleen kan aangaan nie en het SAPA gevra om hom te help,” sê Loots. Hy sê die plaas is nie vervalle, soos wat berig is nie, maar dat die geriewe eintlik baie goed is. Die leeus lyk ook al klaar beter as die aanvanklike foto’s wat van hulle geneem en op mnr. Justin Fernandes se Facebook blad geplaas is.

“Ons gaan ons nou beywer om genoeg kos vir die leeus in Walter se drie koelkamers te kry en toesien dat hulle gevoer en gesond word. Ons ooreenkoms met hom is dat ons dan, sodra die leeus weer sterk en gesond is, sal besluit wat die pad vorentoe sal wees.”

Slippers het hom glo verbind tot ‘n voorstel dat SAPA ‘n bestuursplan vir sy boerdery sal optrek waarby hy sal hou. “Ons wil hom help en ons wil doen wat die beste vir sy diere is. As dit beteken dat hy gaan moet afskaal en van sy leeus verkoop, is hy bereid om dit te doen,” sê Loots.

Agri Northern Cape

Share This