+ 27 53 832 9595
Agri Noord Kaap - Hoë inmenging by Hooglandwater bekyk

Die Kharse-dam. Foto: www.puseletsoteeba1.weebly.com

Vertragings aan die Lesotho Hooglandwaterprojek weens beweerde politieke inmenging spel niks goed vir die landbou nie.

Die Openbare Beskermer is besig met ’n ondersoek nadat bewerings aan die lig gekom het dat me. Nomvula Mokonyane, Minister van Water en Sanitasie, dié waterprojek “gekaap” het om te verseker dat die maatskappy LTE Consulting by die projek betrek raak, het City Press berig.

Volgens Mokonyane is die vertraging – van een jaar – om te verseker dat maatskappye in swart besit by die projek betrokke raak.

Die waterprojek van R26 miljard is vir die bou van die Polihali-dam in Lesotho en tonnels om die volgehoue toevoer van water van Lesotho aan Gauteng en die gebiede wat deur die Vaalrivier bedien word, te verseker.

Belangrikste waterbron
Die Vaalrivierstelsel is een van die belangrikste waterbronne in die land en verskaf water aan 60% van die land se ekonomiese bedrywe, 45% van die bevolking. Dit sluit in die hele Gauteng, Noord-Kaap (Kimberley en Upington), myne en nywerhede in die Mpumalanga Hoëveldgebied, die meeste van Eskom se steenkoolaangedrewe kragstasies in die westelike Mpumalanga, die goudvelde in die Vrystaat en Noordwes, en dan ook water vir die landboubedrywighede in Gauteng, Noordwes, Vrystaat en die Noord-Kaap.

Mnr. Nic Opperman, Agri SA se direkteur van natuurlike hulpbronne, sê die bou van die Polihali-dam is inderwaarheid met vyf jaar vertraag. Buitengewone reënval in die Vaalrivier se opvanggebied die afgelope 15 jaar en vloede by tye het genadig geen waterbeperkings tot gevolg gehad nie.

Opperman sê indien die droogte sou voortduur, kan waterbeperkings van 20% vir volgende seisoen vir besproeiing te wagte wees. Kennisgewing vir waterbeperkings via die amptelike kanale duur sowat ses maande.

Volgens die prysstrategie vir water het die landbou die laagste versekerbaarheid, wat beteken dat wanneer waterbeperkings ingestel word, is die landbou die bedryf wat eerste geraak word.

Bron: City Press

Agri Northern Cape

Share This