+ 27 53 832 9595
Agri Noord Kaap - Goeie geld in gemsbokke – Lood Bester

Die gemsbokbul Spikes is teen ‘n rekordprys van R1,3 miljoen verkoop.
Foto: Verskaf

Die gemiddelde veilingsprys vir gemsbokke is vanjaar baie hoër as verlede jaar.

Die gemiddelde veilingsprys van gemsbokke is vanjaar 20% hoër as wat dit verlede jaar was, sê mnr. Lood Bester, direkteur van die veilingsmaatskappy Wildswinkel. Boonop verdien gemsbokke wat aangepas is vir die Bosveld ’n premie van tot 40% bo hul neefs uit die Noord-Kaap, die Kalahari en die Karoo waar dié wildsoort natuurlik voorkom.

Bester skryf dit daaraan toe dat boere in die Bosveld besef het hulle kan goeie pryse vir gemsbokke in die algemeen, maar goue gemsbokke in besonder, verdien as hulle die diere teen die Bosveld se bosluise kan beskerm – soos wat hulle met swartwitpense en buffels doen.

Omdat gemsbokke eers tussen 26 en 28 maande geslagsryp word, is die teelproses vir kleurvariante baie lank. Boere doen moeite om van meet af aan koeie met lang horings by hul goue en rooi gemsbokbulle te plaas. “Ons sien dus ’n neiging om hierdie langer termyn wildbelegging van die begin af met erns oor goeie teelmateriaal te benader,” sê Bester.

Op die onlangse veiling van Pilanesberg Game Breeders het goue gemsbokke (met gesplete gene) gemiddeld R280 000 stuk behaal. Bester meen dat gemsbokkoeie met horings langer as 40 duim maklik meer as R500 000 op vanjaar se Kalahari-veiling gaan haal.

Agri Northern Cape

Share This