+ 27 53 832 9595
Dr. Gerhard Verdoorn en mnr. Kobus Steenekamp met bier, wyn, koffie, sigarette en sjokolade vas wat volgens die IARC kanker kan veroorsaak. Foto. Nico van Burick

Dr. Gerhard Verdoorn en mnr. Kobus Steenekamp met bier, wyn, koffie, sigarette en sjokolade vas wat volgens die IARC kanker kan veroorsaak. Foto. Nico van Burick

Geen geldige navorsing bestaan in Amerika, Europa of in Suid-Afrika wat sê glifosaat hoort nie op die mark nie, sê dr. Gerhard Verdoorn.

Op geen manier kan ʼn vinger na glifosaat gewys word as ʼn middel wat die mens, dier of omgewing skade kan berokken as dit volgens voorskrifte gebruik word nie, sê dr. Gerhard Verdoorn, toksioloog en direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum.

Hy het by ʼn inligtingsessie oor glifosaat in Pretoria gesê daar moet ʼn verskuilde agenda of derdemag betrokke wees by die teenkanting. “Daar is geen geldige navorsing in Amerika, Europa of plaaslik wat sê glifosaat hoort nie op die mark nie.”

Daar word normaalweg 4,3 kg glifosaat per hektaar op ʼn land aanbeveel. Al sou al hierdie glifosaat in die lug bly hang, sal ʼn mens 150 liter daarvan moes inasem om dodelik te wees. “Dit is fisies onmoontlik,” sê Verdoorn.

Hy sê mens moet egter in gedagte te hou dat álle middele giftig is. “Dit is die dosis wat ʼn verskil maak tussen ʼn gifstof en ʼn nuttige middel.”

Herrie nie oor giftigheid van glisfosaat
Verdoorn sê die groot herrie was nie oor die giftigheid van glifosaat nie. Die internasionale agentskap vir kankernavorsing (IARC) het verlede jaar verklaar dat dit moontlik kanker by mense kan veroorsaak en dit tot ʼn kategorie 2A-risiko verklaar. Die Europese Vereniging vir Voedselveiligheid (EFSA) het die navorsing daarna hersien en verklaar dat dit onwaarskynlik is dat glifosaat kanker by mense kan veroorsaak.

Ander  huishoudelike artikels wat deur die IARC in soortgelyke, en self hoër risikogroep geplaas word, sluit in hout- en leerstof (1), sigaretrook (1),  binnenshuise houtvure (1), hoesstroop (1), rooiwyn (1), oogdruppels (2A), koffie (2B), uitlaatgasse (2B) en sonskerm (2B).

“Hoekom is daar nie veldtogte om wyn, bier, brandstowwe, oogdruppels, koffie en sjokolade verbied te kry nie, maar wel oor glifosaat. Gewone mense is bloot oningelig, maar my enigste afleiding is dat dit ʼn politieke speelbal geword het,” sê Verdoorn.

Glifosaat is die aktiewe bestanddeel wat in meeste onkruiddoders gebruik word. “Dit word al vir 40 jaar in 160 lande gebruik en daar was al meer as 800 studies wat die veiligheid daarvan bewys het,” het mnr. Kobus Steenekamp, besturende direkteur van Monsanto, SA bygevoeg.

read more

Share This