Agri Noord Kaap

55 keer gelees

Die droogte is ’n goeie toets vir die konserwatiewe veldbenadering van ‘n bekroonde beginnerboer van Hopetown.

’n Konserwatiewe bewaringsbenadering het ’n Noord-Kaapse veeboer tydens die afgelope droogte in staat gestel om sy speenkalwers van die veld af te bemark terwyl ander meer gesoute boere noustrop getrek het.

Mnr. Jannie Struis, ’n beginnerboer van Thembelihle, Hopetown se dorpsmeentgrond, het bewys dat daar lesse te leer is uit die toepassing van die korrekte veebelading in ooreenstemming met die veld se drakrag, asook die nougesette navolg van ’n kampstel.

Te midde van die veeproduksieverlies van kommersiële én opkomende boere weens die ergste droogte in baie dekades by Hopetown, het Struis geen regstreekse of onregstreekse verlies gely nie.

Sy koeie het ’n kalfpersentasie van 90 die afgelope jaar gehandhaaf en die kalwers is van die veld af sonder enige  afronding bemark. Die diere het slegs ʼn kort rukkie ʼn produksielek ontvang, andersins  ’n fosfaat-soutlek van 6% ontvang.

Markklaar Volgens Struis is die laaste sewe kalwers van die hoof-kalfseisoen teen ’n gemiddelde massa van 280 kg op 10 Februarie vanjaar bemark. “Die kalwers het gegroei en het markklaar geraak sonder noemenswaardige reën,” sê hy.

“Die kalwers het in die droogte aangekom en het eers in die laaste maand voor bemarking die voordeel van die weiding se herstel ná die eerste reën van 18 Januarie begin trek,” sê Struis.

Die sentrale streek van Landbouskrywers SA het Struis in 2013 as sy Ontluikende Boer van die Jaar bekroon.

Mnr. Johan van der Walt, ’n veekundige van Hopetown, sê Struis se kudde van 60 Bonsmaras vertoon ’n eenvormigheid wat van goeie bestuur getuig.

Vierkampstelsel Met Van der Walt se hulp as mentor volg Struis ’n vierkampstelsel nougeset. Daarvolgens rus elke kamp ’n volle jaar lank in ’n vierjaar-siklus en drie kampe word in rotasie twee maande op ’n slag bewei. Die ruskamp word egter jaarliks in Junie twee weke lank bewei wanneer daar geen groei is nie en om saad in te trap.

Die drakrag van die veld is 16-20 grootvee-eenhede per hektaar. Derhalwe kan hy net die 58 koeie met die twee bulle aanhou. “Die afgelope droogte was ’n goeie toets vir die konserwatiewe veldbenadering waarvolgens die weiding die afgelope jare reeds verbeter het,” sê Struis. “Met die gunstige drakrag en kampstelsel vermeerder ons die reserwe-kos op die veld en ons verbeter ook die gehalte van die weiding.”

Share This