Talle boere is in ‘n oorlewingstryd weens die droogte, sê Agri SA in ʼn nuusverklaring.
Agri SA se kantoor word tans oorweldig deur versoeke vanaf uiters desperate kommersiële en opkomende landbouprodusente om droogtehulp, sê Agri SA.
“Ons doen dus ‘n beroep op die korporatiewe sektor en algemene publiek om finansieel by te dra tot Agri SA se droogtehulpfonds vir die befondsing van voerpille en die vervoer daarvan na produsente in nood.
“ ‘n Ander groot probleem wat Agri SA ondervind is dat ‘n toenemende getal hoogs produktiewe en suksesvolle kommersiële produsente tans sukkel om kop bo water te hou. Ons doen ‘n beroep op kommersiële banke en agribesighede om maniere te vind om grootskaalse bankrotskappe onder hierdie boere te verhoed. Ons vra ook dat die Regering hulp verleen aangesien hierdie boere ‘n belangrike rol speel om voedsel op groot skaal te produseer.
In sekere provinsies
“Dit is veral boere in dele van die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes, Oos-Kaap en Wes-Kaap wat ‘n ernstige krisis in die gesig staar en dringend finansiële hulp benodig. Hulle kan nie langer bekostig om veevoer aan te koop nie en het nie die nodige kontant om hul boerderye aan die gang te hou nie. Boorgate op baie plase het ook begin opdroog en diere is besig om te vrek. Plaaswerkers en hul gesinne het ook dringend humanitêre hulp nodig.”
Agri SA het ‘n beroep op die korporatiewe sektor en die algemene publiek gedoen om by te dra tot Agri SA se droogtehulpfonds aangesien boere nou meer as ooit tevore ons hulp nodig het.
Hieronder is ‘n verslag oor die hulp wat boere uit Agri SA se droogtehulpfonds ontvang het:
Bydrae deur die korporatiewe sektor, internasionale skenkers, kerkgemeenskappe en die algemene publiek | R16 miljoen |
Getal kommersiële boere wat hulp ontvang het | 12 921 kommersiële boere |
Getal opkomende boere wat hulp ontvang het | 3 053 opkomende boere |
Totale getal boere wat hulp ontvang het | 15 974 boere |
Getal bale (rond en vierkantig) wat versprei is | 66 557 bale |
Getal sakke voerpille wat versprei is | 36 609 sakke voerpille |
Getal plaaswerkers en landelike gesinslede wat van kospakkies en gebottelde water voorsien is | 9 057 plaaswerkers
(x4 lede = 36 228 landelike gesinslede) |
Getal trokke wat gebruik is | 579 trokke |
Getal skenkers wat fondse beskikbaar gestel het | 1 300 skenkers |
Getal mieliemeel- en voedselpakkies wat versprei is | 236 ton |
Getal gebottelde water wat versprei is | 548 000 liters |
Getal watertenke wat geskenk is en boorgate wat gesink is | 20 watertenke
3 boorgate |
FINANSIËLE OORDRAGTE AAN PROVINSIES VANUIT DIE DROOGTEFONDS | |
Noord-Kaap | R 3 418 421.00 |
Noordwes | R 3 389 474.00 |
Vrystaat | R 3 189 474.00 |
Wes-Kaap | R 2 250 000.00 |
Oos-Kaap | R 889 474.00 |
KwaZulu-Natal | R 505 263.00 |
Ander provinsies | R 607 895.00 |
Agri SA sê die tekort aan wintervoer is ‘n ernstige probleem en enige skenkings deur die publiek sal hoog op prys gestel word. Verdere oordragte vanuit die droogtehulpfonds sal in Augustus en September gemaak word aan die provinsies wat ernstige tekorte aan veevoer of wintervoer ervaar.
Die bankbesonderhede is:
Begunstigde: Agri SA Drooogtehulpfonds
Bank: ABSA
Rekeningtipe: Tjek
Rekeningnommer: 40-6854-0775