Frans Wiid, nasionale skaapboer van die jaar vir 2017, het as deel van sy prys ’n baie geslaagde boeredag op sy plaas naby Hopetown aangebied. Sowat 200 mense het die verrigtinge bygewoon en verskeie sprekers het opgetree.
Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en bemarking by FNB, het op die volhoubaarheid van wol- en vleisproduksie in Suid-Afrika gefokus. “Die ekonomiese klimaat lyk gunstig vir boere. In die rooivleisbedryf het boere deur ’n moeilike tyd gegaan en baie van hulle is tans nog besig met kuddebou, maar die pryse lyk goed,” sê hy.