Agri Noord Kaap - Agri SA, swart sakelui vat hande oor boere

Mnr Christo van Rheede.
Foto: www.montagu.org.za

“Ons moet vir die Regering sê hoe ons sake wil doen, en nie andersom nie,” het mnr. Motsepe Matlala van Nafu op ‘n geskiedkundige byeenkoms met Agri SA en swart sakelui gesê.

In wat beskryf word as ’n “geskiedkundige ontmoeting tussen twee groot rolspelers in die ekonomie” het Agri SA en die Black Business Council (BBC) onderneem om saam sakegeleenthede vir die land se boere te help skep.

Dié eerste ontmoeting in Johannesburg het ook akademici, boere, bankiers en ander belanghebbendes ingesluit en was gemik op markgeleenthede wat kan voortspruit uit die hersiene wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) – veral vir die ontwikkelende sektor.

“ ’n Nasie wat nie homself kan voed nie, is op ’n pad van selfvernietiging,” het mnr. Mohale Ralebitso, uitvoerende hoof van die BBC gesê. Hy reken Agri SA en sý organisasie se doelwitte stem baie ooreen. “Ons wil ook die Regering oortuig om die regte beleid in plek te kry sodat die meerderheid mense suksesvol in die hoofstroom-ekonomie opgeneem kan word.”

‘Fokus te lank op kleinskaalse boere’
Mnr. Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA, het gesê die fokus was te lank op kleinskaalse boere. “Ons moet groot begin dink en die hele wêreld as die speelveld vir ál ons boere sien. Swart boere moet ook tot die hoogste vlak van mededingendheid geneem word en swart sakelui moet help.”

Op sy beurt het mnr. Motsepe Matlala, voorsitter van die National African Farmers’ Union (Nafu), gesê meer sulke ontmoetings met sakelui is nodig. “Ons moet vir die Regering sê hoe ons sake wil doen en nie andersom nie. Ons moet ons ondernemings beskerm en vergeet van ras, want daar is ontwikkelende swart én wit boere.”

In ’n voorlegging oor Agoa het mnr. Livhuwani Ngwekhulu, Agri SA se transformasiebestuurder, daarop gewys dat daar meer as 7 000 uitvoerprodukte, waarvan sowat 800 landbouprodukte, deur die ooreenkoms geraak word. Hy sê die pluimveebedryf moes die prys betaal om Agoa te laat werk maar daar is ander baie groter voordele vir die land.  “Dit is geteken, dit is nou daar vir 10 jaar en dit lê in ons hande wat ons daarvan maak.”

Ook banke en landboubesighede wil graag betrokke raak, was mnr. Kallie Roets, landbou-hoof van Wesbank se versekering. “Landbou is ’n groei-sektor en in geen ander bedryf kan meer werk geskep word nie.”

Agri Northern Cape

Share This