+ 27 53 832 9595

Agri Northern - Eierboere pak op, tekort aan die broeiTalle boere het die eierbedryf verlaat, sê die SA Pluimveevereniging.

Die mark vir eiers ervaar tekorte omdat die meestal mediumgrootte ondernemings in die eierbedryf sukkel om die hoër koste van produksiemiddele weens onder meer die droogte te absorbeer.

Dit het talle boere die bedryf laat verlaat en vroeër hul bedrywighede laat staak, sê dr. Charlotte Nkuna, ʼn senior uitvoerende beampte van die SA Pluimveevereniging (SAPV).

Sy sê in ʼn verklaring die SAPV weet van gevalle waar boere groot bestellings vir jong lêhenne gekanselleer het, wat ʼn surplus aan jong lêhenne veroorsaak.

Die daling in die nasionale getal lêhenne beteken die verbruikersprys van eiers gaan waarskynlik styg.

Prysverhogings

Dit sal volgens haar strook met prysneigings in ander bedrywe wat swaarkry weens buitensporige verhogings in graanprys en gepaardgaande dierevoere.

Volgens die SAPV se inligting het die eierbedryf die laaste twee maande ʼn skielike skuif van ʼn ooraanbod na ʼn tekort ervaar.

“Sommige produsente rapporteer ʼn gebalanseerde omgewing, terwyl die meeste ʼn tekort aan eiers rapporteer.”

Nkuna sê anders as die braaikuikenbedryf, wat oorwegend geïntegreerde grootskaalse produksiestelsels het, bestaan die eierbedryf meestal uit mediumgrootte produsente wat hoofsaaklik in familiebesit is.

Die SAPV verwag op kort termyn ʼn styging in die aanbod in die mark vir lêhenne wat die einde van hul produktiewe lewens bereik het.

Dit sal egter gevolg word deur ʼn tekort, omdat boere hul lêhenne langer sal hou om te vergoed vir die tekort aan eiers.

Agri Northern Cape

Share This