+ 27 53 832 9595
Agri Noord Kaap - Wimbledon ná 28 ton aarbeie, 7 ton room

Aarbeie vir Wimbledon Foto: Tennisgeesdriftiges het 28 ton aarbeie en sewe ton room (gemaak van 200 000 liter melk) tydens Wimbledon verorber!

Tennisgeesdriftiges het 28 ton aarbeie en sewe ton room (gemaak van 200 000 liter melk) tydens Wimbledon verorber!

‘n Houertjie “strawberries and cream” is dalk net so gewild op Wimbledon as om te kyk hoe die witgeklede spelers dit op die grasbane van dié tennistoernooi sake uitspook!

Dr. Kobus Laubscher, ʼn voormalige grootbaas van Graan SA, was tydens die Wimbledonse toernooi in Londen en dié geagte landbou-ekonoom se kop het seker soos ‘n sompomp gewerk toe hy na getalle van allerhande goeters op dié gewilde toernooi begin kyk!

Laubscher het dié interessante storie geskryf ná sy besoek aan Wimbledon: “Die nagenoeg 28 ton aarbeie wat op die toernooi geniet word, is afkomstig van Kent en word daagliks en vroegdag vars gepluk om sewe ure later afgelewer te word, waar elke vrug met die hand geïnspekteer en in sowat 112 000 houers verpak word. Elke houer het gemiddeld 10 aarbeie.

 Sowat 300 koeie
“Tradisioneel word vars room saam met hierdie aarbeie bedien en daarvoor word nagenoeg 7 000 liter room gebruik. Dié hoeveelheid room is afkomstig van nagenoeg 200 000 liter melk van net meer as 300 koeie per dag vir 14 dae. Die prys per bakkie aarbeie met room is 2,5 Britse pond of nagenoeg R50,” skryf Laubscher.

“Wimbledon 2016 is nie net die belangrikste gebeurtenis op die Engelse sport kalender, dit is die grootste spyseniering geleentheid in Europa (volgens die rekords word Engeland nog as deel van Europa geklassifiseer).”

Laubscher sê tee en koffie is ewe groot gunstelinge op die toernooi en The Daily Express berig dat meer as 300 000 koppies tee en koffie geniet word. Daarbenewens word 250 000 bottels water, 207 000 maaltye, 190 000 toebroodjies, 15 000 piesangs, 20 000 porsies bevrore jogurt en bykans 12 ton verwerkte salm verbruik. (Heerlike landbouprodukte!)

Les jou dors
Die toeskouers les hulle dors met meer as 200 000 glase Pimm’s – ’n tradisionele Engelse mengeldrankie en meer as 50 000 liter bier. Wimbledon skep werk en sowat 1 800 personeel wat sorg vir spys en drank. Daarbenewens help honderde vrywilligers om die byeenkoms glad te laat verloop.

“Alles in ag genome bly die toernooi uitsonderlik en die impak wat dit het op die ekonomie van Londen is enorm, veral as die rugwaartse begunstiging van aarbeie in ’n bakkie tydens tennis tot die verskillende Engelse plaashekke verreken word,” skryf Laubscher.

Oor tennis
O ja, Wimbledon gaan mos oor tennis: Net meer as 54 000 geel tennisballe is tydens Wimbledon 2016 gebruik, met 39 000 besoekers elke dag wat die 14 dae van die byeenkoms bywoon!

Laastens skryf Laubscher: Andy Murray se oorwinning in die mans-enkelspel is gevier met stygende verkope van bier en wyn: Die toeskouers wat tennis gekyk het in die baie kroeë en nagenoeg 70 miljoen Britse pond is daar bestee.

Agri Noord Kaap

Share This